Die folk- rock groep Van Der Aven (Roelof van der Merwe, Theunis van der Merwe en Paul Avenant) is een van die mees opwindende nuwe musiekgroepe in die Suid-Afrikaanse musiek-landskap. Alhoewel hulle al `n hele rukkie saam optree (voorheen BrotherBrother) het Van Der Aven in Maart 2020 die kollig begin steel, toe hulle die gewilde musiek-platform Texx and the City se “Band Or Bust” kompetisie by die Toyota Woordfees gewen het.
Dié gesogte kompetisie het meer as 250 inskrywings gehad waarvan 5 finaliste in die finale rondte moes meeding. Van Der Aven het die beoordelaars Theo Crous, Karen Zoid, Wynand Myburgh and Tecla Ciolfi van Texx and the City so beïndruk, dat hulle eenparig op hulle as die wengroep besluit het. Ciofli sê dat sy toe sy na hul inskrywings-lied geluister het, dadelik geweet het dat daar iets baie spesiaal aan hierdie groep is. Sy verduidelik: “Hierdie ouens het die vermoë om op `n suiwer emosionele vlak met hul gehoor te kommunikeer en `n mens ligter te laat voel na die afloop van hul vertonings.” Theo Crous voeg by: “Wat hierdie groep so besonders maak, is die drie-deel-harmonieë waarmee hulle werk. Ons het nog nie so iets in Suid- Afrikaanse musiek nie. Dit maak hulle klank heeltemal uniek.”
“Heimwee” is Van der Aven se eerste Afrikaanse enkelsnit. Die lirieke is vanaf `n oorspronklike gedig deur die Afrikaanse skrywer en digter JRL van Bruggen. Hy het hierdie besonderse gedig geskryf tydens sy studies in Nederland toe hy terugverlang het na die wye vlaktes van Suid-Afrika.
Roelof het op die woorde van “Heimwee” afgekom toe hy tydens die eerste maand van die grendeltydperk in Suid Afrika in 2020, via Google na die Afrikaans woord vir homesick gesoek het. Hy was alleen in `n klein woonstel in Stellenbosch en het verlang na die ooptes van sy tuiste in die Karoo. Hy het dadelik by die gedig aanklank gevind en was geïnspireerd om sy eie musiek daarvoor te skryf.
Vir twee jaar na “Band Or Bust” was daar `n wag-periode en toe die grendeltydperk in 2022 uiteindelik verby is, het Van Der Aven besluit om hul EP wat in Augustus vanjaar uitgereik word, by Jürgen von Wechmar by Sunset Studios in Stellenbosch op te neem. “Heimwee” is die eerste enkelsnit vanaf hierdie kort nuwe album.
`n Klassieke weergawe van “Heimwee” was oorspronklik deur Mimi Coertse opgeneem. Van Der Aven se weergawe van die liedjie was op Vrydag 10 Junie uitgereik en hulle het eers onlangs verneem dat Mimi Coertse op 12 Junie 90 Jaar oud word. “Dit is ongelooflik hoe hierdie dinge uitwerk. Ons het groot respek vir haar en wat haar musiek vir die skatkis van Afrikaans beteken. Ons hoop sy het `n wonderlike verjaardag!” sê Roelof.
Nog `n sielvolle weergawe van “Heimwee” was deur Coenie de Villiers in samewerking met Jan Blohm en Mauritz Lotz op sy album “Hart van Glas” uitgereik. Coenie het die groep laat weet dat hy baie hou van wat hulle met die liedjie gedoen het: “Dit is `n fantastiese weergawe. Ek hou veral van die gatskop instrumentale brug. Welgedaan julle!”
Lewer kommentaar