Van Der Aven het uit die staanspoor aandag getrek toe hulle in 2020 Texx and the City se Band Or Bust kompetisie by die Woordfees gewen het. Daar was meer as 250 inskrywings en Van Der Aven  was eenparig deur `n indrukwekkende paneel beoordelaars as die wenners aangewys. Musiekvervaardiger Theo Crous was op dié paneel en sê: “Wat hierdie groep so besonders maak, is die drie-deel-harmonieë waarmee hulle werk. Ons het nog nie so iets in Suid- Afrikaanse musiek nie. Dit maak hulle musiek heeltemal uniek.”

Dié opwindende groep wat uit twee Karoo broers en hul beste vriend bestaan, het in Junie 2022 hul eerste Afrikaanse enkelsnit “Heimwee” uitgereik. Daarna het hulle ook die verhoog gedeel met Spoegwolf, Elandré, Glaskas en Droomsindroom en het ook vroeër vanjaar by Danie Reënwolf se troue gespeel.

Danie Reënwolf glo dat Van der Aven `n groep is om dop te hou. Hy sê: “Van Der Aven se nuwe musiek is oorspronklik, incredible en bly in jou kop. Hul aanslag met ritme en liriek is iets wat ek nog nooit gehoor het in enige taal nie. Ek en my vrou het gister ‘n paar keer deur die album geluister en gereeld songs gestop sodat ons dit van voor af kon speel. Van der Aven kry dit reg om epiese temas op ‘n amper huishoudelike manier aan te pak. Dis soos om te kyk hoe die son ontplof vanaf jou sitkamervenster. Hulle is beslis vir my die beste band in SA, en ek glo mense sal dit vinnig besef!”

Van Der Aven stel op 30 September `n self getitelde 6-snit EP bekend en het op 23 September `n video vir “Heimwee” uitgereik.  Hierdie musiekvideo vir hul verwerking van die bekende gedig wat deur JRL van Bruggen geskryf is, was deur die talentvolle Hugo Brand in die Boland verfilm.

Heimwee

Die video volg die groep waar hulle rondry in ’n 1978 Jaguar XJ6 met die bynaam “Layla.” Roelof vertel: “ Layla was vir byna twee jaar my enigste vervoer en het met ’n gehik en ’n gehoes ons gekry by heelwat van ons vertonings. Dit het menige male mooi praat en soebat gekos en juis vir hierdie rede is sy vernoem na die bekende lied van Eric Clapton.”  .

“Heimwee” is die eerste lied vanaf Van Der Aven se 6 snit EP. Dit bevat beide Afrikaanse en Engelse liedjies en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch, met behulp van die uitstekende Jürgen von Wechmar. Die liedjies vertoon die omvang van die groep se besonderse talent met onder andere sagter akoestiese klanke (soos gehoor in “Easy”), sowel as rock (“Slaap jy Al”) tot en met elektroniese elemente soos gehoor kan word in “Afskeid”.

Van Der Aven stel op Vrydag 7 Oktober hul EP by The Daisy Jones Bar net buite Stellenbosch bekend.

Van der Aven EP omslag
Van der Aven EP omslag

Die kuns op die EP se voorblad

Die kunswerk op die EP se voorblad is gemaak deur Sarel Greyling. Dit is `n skildery van “Spitskop”, naby Murraysburg (Paul se tuisdorp) in die Karoo. Greyling skilder met klei op doek om sy beelde te skep.   Die oorspronklike foto waarop die kunswerk gebaseer is, is geneem deur Jan-Hendrik Swiegers.

Snitte op die EP

1. Heimwee

2. Mona Lisa

3. As Ons Almal Môre Sterf

4. Easy

5. Slaap Jy Al

6. Afskeid

Kaartjies na EP vrystellings optrede by Daisy Jones 7 Oktober 2022

https://www.quicket.co.za/events/186892-van-der-aven-ep-launch-at-the-daisy-jones/#/

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply