Op die hakke van die sukses van hul debuut EP (getiteld Van Der Aven), wat einde 2022 uitgereik is, stel Van Der Aven hul splinternuwe enkelsnit “Oud Geword” bekend.
“Oud Geword” is ’n alternatiewe rock lied wat gepen is deur Van Der Aven se hoofsanger en skrywer, Roelof van der Merwe. Hy vertel: “Ons al drie is nou al oor die gevreesde 30 en daar het soveel al gebeur gedurende die jare wat ons al saam musiek maak. Vanaf klein shows speel in hoekies waar niemand regtig aandag gee nie, tot shows waar hordes mense saam ons eie musiek saamsing. Vanaf drie enkellopende bachelors/studente na twee getroude manne en ’n pa van een (amper twee)! Mens moet gereeld jouself stop en vra “Hoe het ons so oud geword?”
Die enkelsnit was opgeneem by Bellville Studios en is vervaardig met die hulp van die musiek regisseur en kunstenaar Theo Crous. “Dit was ’n ongelooflike ervaring om met Theo te werk. Hy is een van Suid-Afrika se mees bekroonde musiek- vervaardigers en is ’n lewende rock legende. Ons het geweldig baie by hom geleer, geredeneer (dis nie altyd smooth sailing in rock-en-roll nie!), en BAIE gelag. Theo is great!” skerts Roelof. Die samewerking van Van Der Aven en Theo Crous het ontstaan nadat die groep die heel eerste Band Or Bust kompetisie by die 2020 US Woordfees gewen het. As wenners van die kompetisie, het Van Der Aven die geleentheid gekry om vir Theo Crous te ontmoet en sodoende saam met hom te begin werk. Roelof vertel dat dit hulle geweldig help groei het as musikante. “Die kans om saam met Theo te werk was verseker een van die beste pryse wat ons in die kompetisie gewen het.”
Theo Crous sê dat dit vir hom wedersyds spesiaal was om saam met Van Der Aven te werk: “Dit was vir my `n geweldige voorreg. Hulle wou graag meer van `n upbeat, rocky song opneem, so ons het vir `n meer intense klank gegaan as waarvoor hulle gewoonlik bekend is. Dit het baie goed uit gewerk en ek is uiters trots op die finale klank van die song.”
Die musiekvideo vir “Oud Geword” is met behulp van Frits Visser van Fried Film Club vervaardig. Vir die video het die lede van Van Der Aven gaan delf in die argiewe om video-materiaal op te spoor van hul grootword jare. “Die konsep van die musiek video was om nostalgie en die hede te probeer kombineer en om so doende kykers ’n beter idee te gee wie Van Der Aven is.”
Oor Van Der Aven
Van Der Aven is ’n onafhanklike alternatiewe rock groep wat bestaan uit drie lede, naamlik Roelof van der Merwe (skrywer, sanger en kitaarspeler), Theunis van der Merwe (sanger en baskitaarspeler) en Paul Avenant (sanger en tromspeler). Die naam Van Der Aven is ’n samestelling van die lede se vanne. Al drie lede is Karoolinge met Paul wat vanaf Murraysburg afkomstig is en die twee broers vanaf Beaufort Wes. Van Der Aven is in 2020 aangewys as die wenners van Band Or Bust by die 2020 US Woordfees en het al die geleentheid gehad om die verhoog te deel met kunstenaars soos Elvis Blue, Elandre, Francois van Coke, Arno Carstens, Droomsindroom, Glaskas en Spoegwolf.
Van Der Aven is 28 Junie 2023 by After Dark by die Two Oceans Aquarium, Waterfront in Kaapstad.
