deur Alexander Carte

Die manne het al oor jare van saam jag en saam vry en skolerugby en gatte wat brand genoegsame persoonlike inligting oor mekaar vergader dat jy nie durf wegbreek van die trio en jou los mond ’n naamskending saak tot gevolg kan hê nie.

Steeds is net Frik de Wetter die enigste sonder kind of kraai en spog dat hy moontlik sy Jack Russel sal moet leer kook of ’n vrou en kind op ’n veiling iewers sal moet koop as die bod hom beval.

Die aand laat by die vuur tuur ons terug in die verlede en uit die bloute laat waai Frik, wat ’n  oorstoot drie in beseringstyd was, met ander woorde ’n droeë-pram kleintjie, so laat in die wêreld gekom het dat hy tot en met laerskool boetie ge-oom het en sussie ge-antie het.

Die ewige lewensjaar agterstand het hom ’n knou ge gee wat meegebring het dat dit ’n karaktereienskap geword het om te veg vir aandag, voor in ’n ry te staan, indruk of nie, en steeds moerig ongeskik raak as iemand intjip as iemand in ’n gesprek verkeer.

Hy dink skielik aan Triesa, ’n girl wat Tjoppie se oë laat traan het van verliefdheid en daai vêraf uidrukking laat kry, het soos ’n gans wat vêr weerlig sien. Naas beduie dat sy ’n hangerige agterstewe gehad het soos Verlatensdal se possak en hy dit nooit kon omarm met sy arm-lengtes wat ver te kort was.

Moet eerlik wees, smal koppie het Frik nogal opgeval en aan ’n kakhuis muskiet laat dink.

Tjoppie is duidelik na ’n baie lang huwelik nie lus om deel te neem aan ’n debat waarin sy nasate se gelaatstrekkings uiteindelik bespreek sal word nie.

Met ’n vars Red Heart trap Frik met ’n kaal voet op ’n dowwe hardekool se kooltjie wat sy regterknie by sy regteroor verby laat vlieg en met die eina woorde van ’n brawe man “moer tog – brand so ’n drol my nou!” gaan maak hy hom sit op ’n ou Coke-kassie wat al ’n splinter of twee afgegee het, maar dit in die vuur gooi sal nie gebeur nie.

Tjoppie vra na ’n lang stilte hoekom Frik nie maar met die girl wat ’n skuins kop kop gehad het soos ’n bok wat berg afkyk afgehaak het nie?

Frik bly baie lank stil. “Ek het eintlik my oog op haar pa se plaas gehad.”

“En toe?” vra-lag Naas.

“Julle sallie vestanie” raak Frik moerig kwyt.

“Wat sal ons nie verstaan nie” vra Tjoppie.

“Julle weet mos?” sê Frik – meer stiller as tevore.

“Weet ons wat?” lag vra die twee soos ’n duet.

“Haar glasoog en post nasale sinus drup asem” sê Frik stil.

“Is jy nou ernstig?” duet die twee weer saam

“Jinne my tjomme – daar’s nie ’n plaas groot genoeg wat daai glasoog kyk kan regverdig nie – en asem wat ’n muishond tranerig maak – not a moer!”

“Gaan jy single bly?” duet dit al weer asof hulle dieselfde asem gebruik.

Naas se tjirperige Mientjie kon darem self ’n meat master bul binne in ’n bully beef blik in trap – en met die karaktertrekke van ’n Pitbull met lipstiffie. Weigh less en Botox en baie body putty maak haar sinlik maak in die nag – ’n nag met ’n donkermaan.  Jy durf dit nie sê in ’n omgewing waar jaggewere rondstaan nie.

Al vir baie jare praat ons rondom die vuur asook rondom Mientjie – hoekom ’n verkleinwoordjie weet niemand nie en niemand is bereid om dit op te haal nie.

“Jip-o ja jip – ek sal nie trou nie, ek sien mos hoe diep staar julle twee getroudes in die vuur”

Lewer kommentaar

Leave a Reply