Die gewilde sangeres Janie Bay se musiek het sedert 2019 reeds meer as twee en `n half miljoen keer op digitale platforms gestroom. Haar Afrikaanse enkelsnitte “Amper Daar”, “Die Heelal” en “Jammer” wat in die afgelope jaar en `n half deur Warner Music South Africa uitgereik is, het verskeie nommer 1 posisies behaal en het volgens RadioMonitor.com, gesamentlik reeds meer as 3 000 keer op Suid -Afrikaanse Radio stasies landwyd gespeel. Die huidige enkelsnit “Jammer” is hierdie week nommer een op Jacarandafm se SA Top20.

Met aanhangers wat bly vra vir meer, wou Janie aanvanklik vanjaar `n vol-produksie album opneem, maar met die inperkingsreëls was daar nie toegang tot studios en kon musikante ook nie bymekaar kom om liedjies op te neem nie. Janie het besef dat sy wel `n akoestiese album sou kon opneem. Die proses is net so eenvoudig soos die liedjies self.
In die Sitkamer is so te sê my “fated baby,” vertel Janie. “En op `n manier neem dit my ook terug na waar alles begin het want dit is eintlik hoe my loopbaan afgeskop het: Ek en my broer was `n akoestiese duo wat baie getoer het met ons musiek.” Janie het in April vanjaar opgemerk dat mense reg oor die wêreld meestal rustiger musiek luister tydens die Covid-19 “lockdown.” Sy vertel: “Ek het self ook meer kalm begin voel as ek op my akoestiese kitaar sit en speel. Een van my wonderlikste herinneringe is hoe my pa altyd die liedjie “Fly Away” van John Denver gespeel het toe ons klein was. Daar is iets vertroostend aan akoestiese musiek en daarom, ten spyte van die tegniese noodsaaklikheid van `n kleiner produksie, voel dit sommer ook vir my reg om nou in hierdie tyd `n rustige, sielvolle album uit te reik.”
In die Sitkamer bied 8 akoestiese liedjies wat die afgelope jaar se drie treffers insluit, `n duet met Hunter Kennedy “Wag Vir Jou”, asook `n nuwe liedjie getiteld “Herfs.” Hierdie splinternuwe lied sou aanvanklik op die vol- produksie album wees. Janie werk al vir `n rukkie daaraan en het besef dat die “50`s rhythm en blues” gevoel van die liedjie lekker sal inpas by hierdie akoestiese album.
Daar is ook 2 covers op die album: die Elvis Presley treffer “Can’t Help Falling In Love With You” en “You Are My Sunshine” wat Janie vir die bekende Afrikaanse film Stroomop opgeneem het”.
Die album is in ‘n sitkamer opgeneem in die Spoegwolf-huis, vandaar die naam van die album. Janie sê: “Ek dink die album is perfek vir ‘n road trip of selfs om by ‘n braai te luister, of ‘n Sondag oggend in die bed met ‘n koffie en beskuit. Ek hoop mense sal hierdie songs geniet!”
Stroom die album hier: https://warnermusicsa.lnk.to/InDieSitkamerM7
Snitte op die album:
Herfs
Wag Vir Jou (feat. Hunter Kennedy)
Amper Daar
Sterre Brand
Can’t Help Falling In Love With You
Jammer
Die Heelal (feat. Early B)
You Are My Sunshine