Kunstenaars wat vroeër vanjaar optredes in Suidoosterfees-produksies moes kanselleer as gevolg van die Covid-19-pandemie, het talente saamgesnoer in ’n spesiale musiekvideo wat Suid-Afrikaanse vroue vir hul inspirerende diens aan die gemeenskap eer. Akteurs en sangers het saam met die bekende digter Diana Ferrus aan die projek, vervaardig deur die Suidoosterfees en die Cape Town Music Academy (CTMA), deelgeneem.

Cintaine Schutte, Buhle Ngaba, Nicole Holm, Babalwa Meintjies, Luna Paige, Lynelle Kenned en Jawaahier Petersen verskyn saam met twee inspirerende vroue, Naazneen Karriem en dr. Karienya Kasvalu, in die video. Karriem bedryf al vir ’n dekade lank ’n sopkombuis in Chapelstraat, Kaapstad. Sy kook elke dag vir behoeftiges uit haar wendyhuis op ’n lappie grond tussen twee nagskuilings. Dr. Karienya Kasvalu is ’n voetsoldaat in die stryd teen die pandemie in ’n Kaapse hospitaal se noodeenheid.

Diana Ferrus en Naazneen Karriem

In die video word Lucas Maree se lied “Die weduwee se kruik” gekombineer met ’n ode wat Diana Ferrus aan essensiële werkers wat tydens die pandemie hoop en genesing in gemeenskappe bring, geskryf het.

Dr. Karienya Kasvalu

“Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van sterk vroue,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hof van die Suidoosterfees. “Vrouemaand en -dag is in 1994 amptelik uitgeroep om die protesoptog in 1956 deur 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria te herdenk. Dié optog was gemik teen die drakoniese paswette van die apartheidsregering. Vandag veg vroue regoor die wêreldwyd steeds vir die reg op gelykwaardige behandeling. Finansieel moet vroue dikwels hul rande veel verder rek om in noodsaaklike behoeftes te voorsien. Spreekwoordelik is Suid-Afrikaanse vroue weduwees met kruike.”

Vicky Davis, programbestuurder by CTMA, was aan die stuur van die projek en het ook die regie van die video behartig. Davis voel dat die ongelooflike werk wat vrouens soos Dr. Karienya Kasvula en Naazneen Karriem elke dag doen, nie ongesiens moet verbygaan nie. Davis sê: “Hierdie video is `n viering van vrouens se onmiskenbare essensiële bydrae tot die gemeenskap. Die projek is ook `n viering van `n ander belangrike komponent van ons samelewing – die kunste.  Dit is n vroulike kragtoer van kreatiwiteit en `n voorbeeld van die positiewe wat kan verrys uit die “vroue wat vroue ondersteun” tema wat hierdie jaar Vrouemaand oorheers het, en dít is die boodskap wat ons graag met die video,  die Lente en die res van 2020 wil instuur.

Schalk Joubert het die musiek vervaardig en verwerk. Die video en klankopnames is deur Sunset Recording Studios hanteer.

Vir donasies aan Naazneen`s ‘Kitchen for the People’ kontak Naazneen by: naazneensoupkitchen@gmail.com  

Meer inligting: https://www.patreon.com/naazneenssoupkitchen

“’n Vrou is vreugde, die wereld sal baat vind in haar vrede. Vereer die vrou!” – Diana Ferrus

Lewer kommentaar

Leave a Reply