Karen Zoid – Slegs een aand

Suid Afrika se rock koningin, Karen Zoid, se vertonings is altyd ’n belewenis en op Dinsdag 27 September bied sy en haar band ’n baie spesiale show by Artscape Opera Teater aan.

Zoid sê: “Om ’n solo show in die Artscape Operahuis te doen is vir my ’n hoogtepunt in my loopbaan. Dit is fantasties om die hele teater vir myself te hê. Ek onthou die eerste keer wat ek in so groot teater ingeloop het: ek was klein en Janice Honeyman was op die verhoog besig met ’n musiekblyspel. Ek sal daai dag nooit vergeet nie. Ek het gedink: dit sal darem lekker wees as ek eendag ook op so ’n groot verhoog kan sing. Hierdie is vir my meer as net ’n show – dis ’n droom wat waar word!”

Die vertoning sal bestaan uit Zoid se grootste Engelse en Afrikaanse treffer liedjies – onder andere ‘Afrikaners is Plesierig’, ‘Engel’, ‘Small room’, ‘Aeroplane Jane’ en ‘Want as ek droom.’ Haar musiek is energiek en gestroop en van haar liedjies soos ‘Hallelujah’ en ‘As musiek begin speel’, gee jou hoendervleis en ander kere laat sy mense huil of skater van die lag.

Zoid belowe dat dit ook ’n romantiese aand gaan wees: “Dis Lente in Kaapstad, die mooiste stad in die wêreld. – jy kan kom handjies vashou in die donker.”

Karen Zoid se gewilde televisie program Republiek van Zoid Afrika het vroeër vanjaar ’n SAFTA gewen in die kategorie “Beste Televisie Geselsprogram.” Kykers sal bly wees om te hoor dat die vierde reeks van Republiek van Zoid Afrika vanaf Dinsdag 11 Oktober 20h30 op kykNET uitgesaai gaan word.

Al drie die Republiek van Zoid Afrika-albums het goue status in verkope bereik. Zoid het tot dusver in 2016 ook groot sukses op iTunes en Youtube behaal. Sy het SA musiek-geskiedenis gemaak deurdat 10 liedjies vanaf RZA Volume 2 en 3 die nommer 1 posisie op SA iTunes behaal het. Die treffer “Toe Vind ek Jou” wat Zoid saam met Francois van Coke opgeneem het het ook onlangs die 2-miljoen kykmerk oorskry.

Moet hierdie spesiale vertoning nie misloop nie.

Kaartjies vir Artscape Opera Teater: R160 tot R180, beskikbaar by Computicket.

Karen Zoid - Slegs een aand
Karen Zoid – Slegs een aand

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar