Die gewilde sanger Jan Blohm het sy solo-loopbaan in 2004 afgeskop met die vrystelling van sy debuutalbum, Melkstraat Confessions. Sy roerende lirieke en vertonings het oornag vele aanhangers gelok. Hierdie onvergeetlike album het die rock-wêreld op sy kop gedraai en vir Blohm vele toekennings in 2005 ingepalm.
In 2008 sprei hy sy vlerke na Londen en Beijing. Met die 14de jaarlikse SAMA-toekenningsaand word hy bekroon met die titel, Beste Afrikaanse DVD van die jaar. In 2009 stel Jan nog ’n album, 7 Jaar, bekend en stap dankbaar weg met die VAMT-toekenning vir Beste Rock-album van die jaar, asook twee Huisgenoot Tempo-toekennings.
Oor die afgelope paar jaar, het hy ’n gewilde gesig geword by die land se grootste musiekfeeste en Blohm word onder musiekkenners geloof vir sy bydrae tot die volwaardige erkenning aan betekenisvolle musiek in die hoofstroom -musiekbedryf.
Vir hierdie spesiale KKNK Mothership-sessie, ’n unplugged musiekkonsert, span Blohm kragte saam met die baskiktaarspeler Ashley Hilton Jacobs en John Masser op dromme. Blohm sê: “Dit was ’n baie lekker ervaring. Dit was wonderlik om weer as drie vriende bymekaar te kom en saam te kon speel. Ons het dit vreeslik geniet en gevoel asof ons weer op ’n stage is. Alhoewel daar nie mense was nie, was die energie steeds daar.”
Jan Blohm, se konsep-album, JENNY, wat uit veertien snitte bestaan is in Julie vanjaar bekendgestel. Dit vertel die storie van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, woon. Dit is die eerste keer wat hy so ’n projek aanpak, maar volgens hom is dit iets wat al lank in sy kop broei en eendag die klankbaan van sy fliek met dieselfde naam gaan wees.
Blohm hou homself ook tans besig met kunswerk, asook beeldhouwerk. Hy vertel: “Ek probeer steeds produktief bly deur elke dag te werk en te fokus op die kuns. Ek hoop regtig om binnekort weer op die pad te kan wees. Ek sien uit om met die nuwe album, Jenny, te toer, en indien nie, sal ons steeds musiek maak vir die mense op ons sosiale platforms. Ek werk ook aan ’n uitstalling saam met Ruhan Janse van Vuuren.”
Moenie Jan Blohm se heerlike konsert misloop nie. Kry jou kaartjies by WEBTICKETS. Dié musieksessie sal vanaf Donderdag 27 Augustus 20:00 beskikbaar wees om te kyk vir 72 uur.
HOE OM DIE VERTONING TE KYK: (Twee maklike stappe!)
- Jy koop ’n kaartjie presies soos wat mens ’n kaartjie vir ’n gewone konsert sou koop, by WEBTICKETS. *Jy moet ’n profiel skep, en jou kontakbesonderhede invul.
- Op die aand van die vertoning, skakel jy weer in op WEBTICKETS, gaan na My Account, en kliek dan op My Tickets. Hier sal ’n skakel wees wat 20:00 live gaan. Kliek dan op die skakel – die player sal outomaties oopmaak en jy kan die vertoning kyk.
