Desember in die Kaap word ingelui met topvermaak deur die Suidoosterfees. Lockdown Legato, piekniekkonserte waarin verskillende musiekgenres en kunstenaars op unieke wyse bymekaarkom, vind van 3 tot 5 Desember in die pragtige Komanjiestuine plaas.

Dié piekniekkonserte word in die volgende opwindende kombinasies aangebied: Rock & Rumba met Arno Carstens, Hassan Adas en Adelia Douw; All that Rapp met Jack Parow en die Unity Band; en Classics Fantastics met Die Heuwels Fantasties, Tarryn Lamb en lede van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes.

Lockdown Legato is die uitvloeisel van samewerking tussen die Suidoosterfees en Stad Kaapstad, ACT, kykNET, Netwerk24 en BASA. Die musiekterm legato beteken “saamgevoeg”, en uiteenlopende kunstenaars sorg vir ’n kreatiewe wisselwerking soos selde tevore. Die konsep is tydens die grendelstaat bedink om sinergie tussen kunstenaars en werkskepping te bevorder. Produksies word vervaardig deur die Cape Town Music Academy NPC.

Arno Carstens, Adelia Douw en die fusion-groep Hassan Adas versmelt rock-klanke met Latynse en Afrika-ritmes, terwyl Jack Parow se rymklets-straattaal verweef word met die Unity Band se lieflike jazz-klanke. Klassieke musiek kry ’n splinternuwe elektro-baadjie wanneer die Moederstad se Filharmoniese jeugorkes lede saam met Die Heuwels Fantasties en popdiva Tarryn Lamb op die verhoog klim.

Jack Parow het al dwarsoor die wêreld opgetree. Oor die komende show sê hy: “Ek is soooo excited vir die Suidoosterfees Lockdown Legato! Ek het nog nooit in die Kompanjiestuin gespeel nie en omdat ek van die Kaap is, is dit regtig ’n eer om dit finally te kan doen. En dit nogal saam met so ’n amazing band. Ek sien sommer BAIE uit!” Thandeka Dladla van The Unity Band sê dat dit ’n heerlike ervaring gaan wees om die verhoog met sulke dinamiese musikante te deel. “Die Suidoosterfees bring met hierdie wonderlike konsep verskillende kunstenaars met diverse talente bymekaar. Dit bewys weereens dat musiek alle grense oorskry.”

Arno Carstens sê dat Rock & Rumba ’n heerlike viering van kreatiewe moontlikhede met verskillende ritmes is. “Dit gee my die geleentheid om ouer liedjies te verwerk en ook om saam met uitstekende kunstenaars nuwe materiaal te skryf.” Adelia Douw sien ook baie uit: “Ons gaan groot met rock en rumba!”

Pierre Greeff sê: “Ons is super opgewonde oor hierdie show! Dis in die DNA van Die Heuwels Fantasties om te collaborate. Ons het al voorheen met ’n filharmoniese orkes opgetree tydens ’n groot show, maar om dit nou op ’n meer intieme verhoog te kan doen saam met lede van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, gaan absoluut fantasties wees. Fans kan uitsien na nuwe verwerkings van ons liedjies, en na Tarryn Lamb saam met ons op vocals.”

Musiekregisseur en kurator van die projek, Schalk Joubert, meen samewerking soos dié is gesond vir die musiekbedryf. “Om uiteenlopende musikante soos hierdie saam te gooi, verbreed beide die gehoor en kunstenaar se wêrelde. Dit bied ’n platform vir die ontstaan van grensverskuiwende kreatiwiteit en vennootskappe.”

Moenie hierdie baie spesiale konserte misloop nie! Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by Computicket.

PROGRAM

All that Rapp

Jack Parow en The Unity Band

3 Desember | 20:00

Rock & Rumba

Arno Carstens, Hassan Adas en Adelia Douw

4 Desember | 20:00

Classics Fantastics

Die Heuwels Fantasties, Tarryn Lamb en lede van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes 5 Desember | 20:00

Lockdown Legato

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply