Lotus

Jan Blohm stel Lotus bekend, ’n DVD met gunsteling liedjies van Melkstraat Confessions, 7 Jaar en ’n Stille Runaway, asook twee splinternuwe liedjies, “Ruby” en “Ons Huisie”.

Van die land se voorste musikante maak deel uit van hierdie opname, onder andere Anton L’Amour, Riaan Diedericks, Martin Labuschagne, Chrismari Nel, Brenda Biddulph en Elrine Spies.

Lotus het verskeie betekenisse vir Blohm. Die lotus blom is een van die mooiste blomme, maar ook die enigste blom wat die beste groei in diep, vuil, modderwater ver van die son, en dan met ‘n onaantasbare skoonheid verras. Vir Blohm is hierdie ’n metafoor van die lewe. Dit maak nie saak hoe sleg en moeilik een se lewensomstandighede is nie, mens het steeds die vermoë om uit te styg en een van die mooiste blomme te wees. “Dit maak nie saak hoe sleg en moeilik ‘n mens se lewensomstandighede is nie, ’n mens het steeds die vermoë om uit te styg en een van die mooiste blomme te wees.” sê hy.

Blohm is spitsvondig en selfs satiries, met komiese stekies wat mildelik uitgedeel word. Hy noem byvoorbeeld dat hy altyd gedink het dat mense wat hemel toe gaan, Potchefstroom toe gaan … tot hy besef het hulle gaan eintlik Stellenbosch toe!

Die digter Breyten Breytenbach was sedert Blohm se jeug ‘n besonderse inspirasie. Breytenbach het in die jare 70 ‘n digbundel getitel Lotus onder die skuilnaam Jan Blom gepubliseer. Vandaar dat Blohm die karakter Jan Blohm aangeneem het en as sy verhoogpersona gekies het. Liedjies soos Groen trui en Breyten se brief is dus deel van die DVD-konsert om hierdie rolmodel te huldig.

Lotus: Live DVD is ver van ‘n deursnee-rockkonsert. Dit is ‘n energieke musiekreis saam met een van Afrikaanse se voorste musiekkunstenaars wat hier sy eiesoortige blik op die wêreld met klank en passie deel.

Die DVD sluit ’n onderhoud in asook verskeie musiekvideo’s.

Jan Blohm is 20 en 24 Augustus by Die Boer in Durbanville. Hy deel die verhoog met Bacchus Nel en Marissa West.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar