// jy lees ...

Hoofartikel

7 Jaar

Wat gebeur as ‘n legende stil word … ?

Soms, net soms, is die stilte, die ontvlugting vanaf die metronoom van tyd, die salf wat elke swerwer benodig. In die wyse woorde van Koos du Plessis kan ‘n mens tereg vra: Wie is die ware reisiger? Die een te voet of die een te gees? In Jan Blohm se geval was dit laasgenoemde. Drie jaar gelede het hy sy binnereis aangepak, sy siel gevind en die joernaal van sy omswerwinge is vasgevang as ‘n splinternuwe CD: 7 Jaar – as’t ware ‘n dagboek van die nuwe fase waarin hy hom bevind – ‘n nuwe gety. As die swerwer hierdie boek toemaak, is dit tyd vir ‘n nuwe hoofstuk, ‘n nuwe album, nuwe krete, nuwe liefde … ‘n nuwe sewe jaar. Want terwyl die balsem sy werk doen, word dit algaande duidelik wat die verskil is tussen die beeld en die ware mens.

7 Jaar baar ‘n nuwe mens, om ‘n snede uit die titelsnit aan te haal. Dit is amper ‘n persoonlike Job-se-gebed vir Jan Blohm. In sy lirieke het hy homself raakgevind. Met gerwe van sy geheue wat ‘n vervloë beeld op ‘n huidige gelaat projekteer bied 7 Jaar jou die geleentheid om die hede en die verlede, so ver van mekaar en so onafskeidbaar, saam te sien. En deurlopend dawer die genesing wat alles weer konnekteer en die stroombane herstel sodat talent en insig in ‘n kragtoer teen volle sterkte kan vloei.

Elkeen van die 10 snitte verstrengel moeiteloos jou hart en siel. Jan was nog altyd ‘n meester van musiek en liriek, maar op hierdie album kom ‘n ander, dieper dimensie by. Dit het ‘n onweerstaanbare en oorrompelende kombinasie van musiek en emosie tot gevolg. Daar is ‘n deernis, ‘n kwesbaarheid met nuanses wat jou na onbekende plekke laat reis. Hy sing stories van ons almal se diepste wese. Hy skep ontmoetings met tapiserië van seer en salvation.

Jan Blohm

Dis die soort album wat jy eintlik bitter graag vir jouself wil hou, want die weerkaatsing op jou siel laat jou effens weerloos, maar aan die ander kant kan jy nie die opwinding versteek nie. Daar is ‘n dringende dankbaarheid en behoefte om so ‘n groot talent te deel. Sy musiek val soos ‘n soutdruppel in roet-vorm, amper soos soekende ink op velle wit dooie bome. En dan is daar die geluidlose klop in jou bors, die groot stilte – en al wat oorbly is om met die swart klei van waarheid jou eie oë te bedek, selfs elke krakie in jou binnekamer, sodat uiteindelik die lig kan genees. En algaande weet jy verseker: Laat ons eerder in die hande van lig as in die hande van mense.

7 Jaar is ‘n album wat onteenseglik bewys hoekom Jan al met soveel toekennigs weggestap het.

(Sy debuutalbum, Melkstraat Confessions, het in 2004 verskyn. Hierdie album het met die 2005 GMT-Toekennings die kollig gesteel toe dit te midde van sterk kompetisie met drie van die vernaamste toekennings weggestap het: Album van die Jaar, Liedjie van die Jaar (“Breyten se Brief”) asook Nuweling van die Jaar. Jan ontvang in Oktober 2005 die Huisgenoot Tempo Toekenning vir Die Beste Rock Groep. Sy tweede album, ‘n Stille Runaway, is in Januarie 2006 opgeneem en ondanks sterk kompetisie ontvang hy twee Huisgenoot Tempo Toekennings in 2007 vir Gunsteling Rockalbum (Groen Trui) en weereens vir Gunsteling Rockgroep. In 2008, by die 14e SAMA Toekenningsgeleentheid word Jan bekroon met Beste Afrikaanse DVD van die jaar. Hy was ook die 1e Suid-Afrikaanse kunstenaar om in 2008 in Beijing, China op te tree. Jan het ook die hoofrol vertolk in Frans Marx se kykNET dramareeks Dit wat stom is, en die titelmusiek, “Dromer”, is sy lirieke en komposisie.)

7 Jaar is ook ‘n album wat berusting bring. Dis ‘n avondmaal. Soms proe jy reën en soms proe jy vuur maar jy staan vervuld en tevrede op aan die einde daarvan – en die beeld is skielik helder. 7 Jaar is ‘n son wat opkom. Dit is die lig van dag.

Soms, net soms, is woorde ontoereikend om juistheid te verleen wanneer iets jou sprakeloos laat van verwondering. As bogenoemde nie vir jou duidelik genoeg is nie – koop Jan se CD, en jy SAL verstaan.

Share and Enjoy:
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • laaik.it
  • Ping.fm
  • RSS
  • Digg
  • FriendFeed
  • Google Buzz
  • Live
  • MySpace
  • Twitter

Related posts:

  1. Tien jaar later
  2. As jy eendag glo
  3. Blou Bulle: 70 Jaar van Glorie
  4. 2009 Suid-Afrikaanse motor van die jaar wenner
  5. Van Veen na 40 jaar steeds vars

Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

  1. [...] Botha se Welkom In Die Wêreld Jan Blohm se 7 Jaar Teerpad se Kry Rigting Zinkplaat se Mooi [...]

    Geskryf deur Benoemings vir die Suid-Afrikaanse musiektoekennings 2010 « Roekeloos | 5 Maart 2010, 13:53

Switch to our mobile site