Drome en nagmerries – moet ’n mens dit bloot afskryf as ongelooflike vlugte van die verbeelding, of behoort daar dalk meer waarde aan geheg te word?
In sy nuwe enkelsnit, “Mateloos Gek”, probeer Gerard Stoop op ’n speelse, maar eerlike wyse sin maak van twee drome wat gereeld tydens sy slaaptyd herhaal. Hierdie drome vorm die vertrekpunt van ’n lied waarin die fisieke wegvlieg van die frustrasies van die alledaagse lewe bykans realisties uitgebeeld word.
Die fantasie kry momentum in lirieke oor pragtige landskappe waaroor gevlieg word, die saamwees tussen wilde voëls en die intense belewenis van ’n donderstorm hoog in die berge. Selfs die onmoontlike word moontlik: is die “in-asem” van water áltyd ondenkbaar? Nie in sý drome nie.
Uiteindelik beskryf “Mateloos Gek” ’n diep hunkering na kalmte, vryheid en sielerus – daardie stilte en balans wat net die natuur werklik kan bied. Die musiek komplimenteer die tema en lirieke besonder goed en versterk die droomagtige atmosfeer van die lied, wat dit sonder twyfel laat uitstaan as een van Gerard Stoop se sterkste komposisies tot dusvêr.

