Melkstraat Confessions

deur Toast Coetzer

Jan Blohm is duidelik the real deal. Dit sal almal weet wat hom al live gesien het. So real soos Andrew Hall. So real soos die drank op sy asem. So real soos die bultende are in sy nek wanneer die t-shirt deurdrenkte blues-sweet hom beetpak.

Mens vrees soms vir Blohm se veiligheid en welsyn, want op die verhoog lyk dit telkens asof hy spontaan gaan oopzip sodat al sy derms en organe oor die verhoog uitstort. Wanneer musiekmaak en skryf jou enigste kanale word, en die waters rowwer, bruiner en meer bevloed begin raak, dan kos dit bontstaan om te keer dat die walle nie bars nie. Dit raak ernstig.

In vergelyking met sy live shows is Melkstraat Confessions half mak, maar nie minder real nie. Hier is die stewige raamwerk van sy liedjies duidelik vir almal om te sien.

Teen die tyd wanneer “breyten se brief” op track 3 na vore tree, dan’s die strop reeds styf om jou nek: “ek’t gesê jy’s die son in Breyten se brief/ want hy maak ons huil/ maar jy maak my sien”. Dis woorde so groot soos die nag se vreemdste dinge: Blohm is duidelik digter ook, soms kom sekere dinge outomaties.

Dat hy kan sing is duidelik. Sy stem is groot en ru – dis ‘n agtsteman, nie ‘n losskakel nie. Dit grom en rasper, trek klinkers skeef en spit dit vol grond. Hy sing soos ‘n tawwe ouer broer wat altyd kak gepraat het oor rugby maar toe ewe skielik eendag per abuis ontdek het dat dit hier binne nie net tamatiesous en Skylectric-circuitry is nie, maar actual rou, oogebarste 100% siel. En nou gooi hy dit uit, en ons is die gelukkiges. Boonop speel hy kitaar soos ‘n motherfucker en mondfluitjie soos ‘n diepseeduiker.

“9mm blues” moet jy liefs hard opdraai, want dis ‘n harde song. Want ‘n 9mm is ‘n gun en daar’s geen manier rondom staal nie. “rooiwyn en mary-jane” praat rustiger, maar dis allermins maanskyn en rose, want hier’s dooie bome, ‘n gebrek aan lig, gif vir die siel (en dis fine met hom!).

In teenstelling is boere cinderella ‘n jolige affêre, dit huppel voort teen ‘n tempo wat Anton Goosen instemmend sou laat knik het. Blohm roep ook ander name op, en net grotes: Koos du Plessis (op “sondag lover”) en Kerkorrel (“melkstraat”). Of hy eendag as ‘n groot naam onthou sal word hang af van baie dinge, soos hoeveel goeie plate hy gaan uitreik, of die liedjies op peil gaan bly, hoe sterk die kompetisie is en of hy homself genoegsaam toegezip kan hou sodat die buitelyne nie vervaag nie.

Feit is, Jan Blohm is hier. En saam met sy kameraad Bacchus Nel en die (tot dusver, but wait and see) meer onbekende Johan Nel is hulle huidiglik die belowendste van die ‘nuwe’ golf singer-songwriters in die land.

Opwindende tye lê voor.

Lewer kommentaar

Leave a Reply