Sibongile Khumalo se naam is sinoniem met jazz en opera, maar ook met hoop en versoening. Haar afsterwe bring ’n groot verlies op verskeie terreine mee.

Sibongile Khumalo
Sibongile Khumalo

Khumalo se loopbaan word gekenmerk deur vele hoogtepunte, soos haar optredes tydens Nelson Mandela se 75ste verjaarsdagvieringe, sy presidensiële inhuldiging en die uitvoering van die volkslied by die rugby-wêreldbeker in 1995.

Khumalo is verskeie kere met gesogte pryse bekroon. In 1992 het sy die Standard Bank Jong Kunstenaar-toekenning ontvang, en sy het vier SAMA- en drie Vita-toekennings vir verhoogoptredes verower. Een van Suid-Afrika se hoogste eerbewyse, die Orde van Ikhamanga (silwer) is ook aan haar toegeken as erkenning van haar enorme bydrae tot die kunste.

Volgens prof. Brian Figaji, direksie-voorsitter van die Suidoosterfees, was die gerespekteerde Sibongile Khumalo se toewyding tot die ontwikkeling van belowende jong talent inspirerend. “Ons was bevoorreg dat die legende by die Suidoosterfees opgetree het. Haar betrokkenheid by gemeenskap-kore het daadwerklik ’n verskil in die nuwe demokrasie gemaak. Haar bekende lied, ‘Plea for Africa’, is die voorgeskrewe werk vir kore wat deelneem aan die Suidoosterfees se koorkompetisie, een van ons vlagskip-projekte.”

Die Suidoosterfees en kykNET beplan ’n produksie om Sibongile Khumalo se bydrae tot die kunste te eer. Verskeie feeskunstenaars sal daaraan deelneem, asook kore wat by die fees se kompetisie gebaat het.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, hoop dat die produksie vertroosting sal bring, veral in hierdie tyd wat Suid-Afrikaners dit nodig het. “Met hierdie produksie wil ons nie net vir Sibongile Khumalo as ikoon vereer nie, maar ons wil haar musiek laat voortleef.”

Op Coenie de Villiers se Hart van glas sing hy ’n verwerking van die tradisionele “Thula” saam met Khulamo en Amanda Strydom. De Villiers, wat betrokke is by die fees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekmentorskap-projek, onthou Khumalo as ’n formidabele vrou en kunstenaar. “Alhoewel ons nog vir jare die groot verlies gaan ervaar, het sy ons met kultuurskatte agtergelaat. As kunstenaars wil ons dit met gehore deel en nuwe talent help slyp wat andersins nie die geleentheid sou gehad het nie. Ons sien daarna uit om die produksie spesiaal vir haar op die planke te bring.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply