In November verlede jaar het Petronel Baard en Johan Liebenberg kragte gesmee in ‘n pragtige enkelsnit “Mag jy” geskryf deur Helena Marais.

Op 22 Maart 2024 stel hulle die musiekvideo van dié snit, wat ‘n seënwens vir geliefdes uitspreek en intussen op meer as 30 radios se speellyste gelys is, vry.

Om dit te vier doen hul ‘n vertoning saam op publieke aanvraag en het besluit om ode te bring aan van hul grootste invloede.

Die tydlose Nana Mouskouri was vir Petronel met haar album Die Heelal Draai ‘n deurgaanse verwysing, maar sy is ook gekend vir haar  oorspronklike musiek en samewerking soos die met Helena Marais as skrywer.  Vir Johan, gekend ook vir sy ongelooflike Neil Diamond vertonings, is daar ánder invloede, van Leonard Cohen tot Keith Urban asook oorspronklike musiek uit sy pen wat hy kom deel.

Dit is waaroor die twee gesels of moet ons sê sing op kitaar en klavier, met Nana & Friends.

Pragtige liedjies soos “The first time ever I saw your face, “The White Rose of Athens”, “ “Bird on a wire”,  “ To love somebody”, oorspronklike klanke en natuurlik hul enkelsnit, “Mag jy” is waarmee Johan Liebenberg en Petronel Baard gehore kom vermaak met hul eerste lewendige optrede saam.

Met Schalk Maas wat ook hul enkelsnit se produksie saam met David Cruickshank behartig het, op toonkrullekker mondfluitjie, bring hul ‘n gestroopte, innige vertoning vol seën.

Nana & Friends sal betower met twee baie sonderlinge stemme uit die Suid-Afrikaanse musiektoneel, want hul mag maar.

Nana & Friends met Petronel Baard & Johan Liebenberg by Die Boer restaurant teater op 16 April om 20h30.

Kaartjies kos R200 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Lewer kommentaar

Leave a Reply