Net jy alleen

Kurt Darren (31) is in Pretoria gebore en hy het aan die Hoërskool Lyttleton Manor gematrikuleer. Hy het op skool aan verskeie musiekblyspele deelgeneem en tydens sy militêre opleiding was hy lid van die weermag se vermaaklikheidsgroep. Hy spog nou met ‘n nuwe CD, Net jy Alleen.

Sy eerste album For Your Precious Love word in 1995 uitgereik. In 1997 neem hy die album Kurt Darren op. Sy derde album Just When I Needed You Most word in 1998 uitgereik en in 1999 neem hy die album Since I Found You op.

Met sy vierde album het hy meer Afrikaanse liedjies begin sing en as liedjieskrywer ontpop – hy skryf ook drie nommers – “Millennium Vrou”, “Daar’s ‘n lied in my hart” en “Daddy’s Little Girl” vir die album.

Hy het reeds verskeie musiekvideo’s opgeneem en hy tree gereeld by korporatiewe funksies op. Hy het ook saam met die groep Smokie op die Symphony-passasiersboot opgetree. Kurt is lid van die groep Deep Blue.

Kurt se vyfde album Net jy Alleen bevat 18 Engelse en Afrikaanse liedjies waarvan ‘n hele paar liedjies trefferstatus kan bereik. Hy sing ‘n groot verskeidenheid liedjies op Net Jy Alleen – van wakker nommers soos “Crazy Bout You”, meesleurende ballades soos “No More Boleros” en “The Dance”, tot ‘n op-en-wakker nommer “Meisie, Meisie”, wat beloof om ‘n groot treffer op die dansbaan te wees.

Nog ‘n uitstaande nommer is “Now I Will Be A Man” (waarvan daar twee weergawes is) wat beslis by oud en jonk byval sal vind.

Kurt gee ook nuwe glans aan immergroen treffers soos “Brown Eyed Girl”, “The Rose” en die Afrikaanse treffers “Ek is verlief op jou” en “Wie sal kom nagsê?” En dan is daar nog ‘n hele rits nuwe romantiese nommers. Luister gerus na “Net jy Alleen”, “Ek dink nog steeds aan jou”, “Al jou mooiste drome”, “The Last Time” en “Ewige liefde”.

Kurt het ‘n sjarmante en strelende stem wat sag op die oor val , ‘n groot register en met die album bekoorlike liedjies – wat hy saam met Robin Kielly vervaardig het – bereik hy sy volle potensiaal.

Kurt is pas benoem vir ‘n Geraas Musiektoekenning – beste kontemporêre album en sy nuwe trefferliedjie “Meisie, Meisie” het al wat leef en beef by vanjaar se kunstefeeste laat dans.

Lewer kommentaar

Leave a Reply