Dorsland, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock se derde album, is die resultaat van vier jaar se skryfwerk en nuwe liedjies uitprobeer op gehore regoor die land. Met Dorsland glo Richard en Lochner hulle het ‘n produk wat werk.
Na hulle sukses met Tussen Treine, wat goue status behaal het, het Vuurklip in 1998 gevolg. Dié album is met ‘n SAMA-nominasie vereer. Nou – drie jaar later – is dié gewilde duo terug met ‘n spog-produk.
Dorsland verken die reise in die kop en die talle reise deur Suid-Afrika. Die mens se ewige dors na die bekende en die onbekende – die reise wat dié twee musikante oor die afgelope 14 jaar gedeel het van konsert tot konsert, asook die afgelope 30 jaar as akteurs op die planke.
Die musiek op dorsland wissel van ballades tot gedigtoonsettings, van walse na jazz. Hulle neem vir die eerste keer ook ‘n Engelse liedjie op getiteld “Cowboy Guitar”. Al die musiek op die album word gebind deur hulle liefde vir stories en goeie musiek. Nuwe verwerkings van hulle groot treffers “Tussen Treine” en “Liefliedjie” is ook op Dorsland ingesluit.
Richard en Lochner span vir die opname van dié cd kragte saam met Andrew Roos, wat al vir ‘n geruime tyd saam met hulle optree. Andrew was vantevore Casper de Vries se begeleier en musikale regisseur. Dorsland is vanaf Januarie 2000 tot Februarie 2001 by Andrew se Brak Musiekateljee in Ermelo opgeneem. Alle verwerkings is deur Andrew in samewerking met Richard en Lochner gedoen.
Vir ‘n paar van die liedjies word dié drie bygestaan deur Harry Knepscheldt op saksofoon en mondfluitjie, Ani K as gaskunstenaar, Phillip Breedt op trompet, Hennie Aucamp wat die lirieke van twee van die liedjies geskryf het, André Swiegers met die musiek vir die snit “Dorsland”, Wikus du Toit met ‘n toonsetting en Mark Schönau op viool.
Die oorspronklike musiek op Dorsland lewer ‘n groot bydrae tot die Afrikaanse musiektoneel en die liedjies op dié album gaan nog vir baie lank gehoor en geniet word deur bestaande en toekomstige aanhangers van gehalte Afrikaanse musiek.
Lewer kommentaar