Ses opkomende liriekskrywers is gekeur vir die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se tweede liriekskryfmentorskapprogram. Aansoeke vir deelname aan dié ontwikkelingsinisiatief is van regoor die land ontvang, en ’n paneel kundiges in die musiekbedryf het die volgende kandidate vir die mentorskap aangewys: Bryson Appels, Duwayne Lombard, Jemaine Julies, Monique Basson, Mpumelelo Kamkam en Waldon Ewerts.

Die alombekende kunstenaar en televisie-persoonlikheid Frazer Barry sal as mentor optree wanneer die kandidate van 1 tot 15 September vir ’n skrywersverblyf by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos aanmeld.

Bryson Appels kom van in Alabama naby Klerksdorp. Sy musiek word beskryf as “van die straat vir die straat”, en hy is beïnvloed deur kunstenaars soos P.O.C., Brasse Vannie Kaap, Isaac Mutant en Hemelbesem. Hy het al ’n verhoog gedeel met bekendes soos Yoma, Early B, Ixa, Hemelbesem en Die Hooflig, en sy musiekvideo’s is deur kykNET en ONSE Tv gebeeldsend. Brysonse Straatkat Media-insetsels op YouTube is reeds meer as 80 000 keer gekyk.

Mpumelelo KamKam, oorspronklik van Bathurst in die Oos-Kaap, het op laerskool ’n skoolkoor op die been gebring waarvan hy die hoofsanger was. Sedert hy in graad 10 die skoolbanke vaarwel geroep het, werk hy op ’n plaas in die Prins Albert-distrik. Mpumelelo glo dat musiek die kragtigste instrument is waarmee ’n mens die wêreld kan verander.

Waldon Ewerts, ’n liedjieskrywer en musiekvervaardiger van Prins Albert, tree gereeld by funksies op. Hy speel die kitaar en ukulele, en het sy hart vroeg reeds op musiek verloor. In graad 8 het Waldon sy eerste rymkletsliriek geskryf, en sedertdien is hy verwonderd oor die pad wat musiek vir hom in die wêreld oopmaak.

Duwayne Lombard, afkomstig uit die Koo-vallei naby Montagu, gee onderwys by die G.B. Batt Primêre Skool in Ceres. Hy blink uit in verskeie kompetisies en beywer hom vir die bevordering van die rieldans. “Ons werk en speel”, ’n liedjie van Duwayne, is deur Pieter van der Westhuizen gesing, en dit is in 2019 tydens die ATKV-Rieldanskompetisie as beste rielliedjie aangewys.

Jemaine Julies woon in Stanford en is versot op Afrikaanse R&B. Vir hom is musiek sinoniem met liefde en hy spandeer die grootste deel van sy dag aan die skep van musiek. Jemaine skryf eg Suid-Afrikaanse lirieke in sy hartstaal. Van sy liedjies is op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai.

Monique Basson, ’n boorling van die Swartland, is op jong ouderdom deur die musiekgogga gebyt. Haar oupa, wat elke dag van sy lewe musiek gemaak het, het haar passie vir dié kunsvorm gevoed. Monique het ’n BA in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenboch behaal, en sy het 14 jaar se sangopleiding agter die blad. Haar droom is om mense se lewens deur musiek en teater te verbeter.

Dié ses aspirantliriekskrywers sal onder Frazer Barry se mentorskap werk aan ’n produksie wat in 2022 by die Suidoosterfees gaan debuteer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply