Nuwe Nobel-stuk debuteer by Kunstekaap-musiekkompetisie

Die boeiende koorwerk wat was spesiaal vir Kaapstad se Nobelvredesberaad geskryf is – maar later uitgestel is – sal nou vir die eerste keer by die jaarlikse Kunstekaap Nasionale Jeugmusiekkompetisie opgevoer word.


Die vier minute-lange “Palladio” deur Walliese komponis Karl Jenkins, sal op Saterdag 18 Oktober deur ‘n saamgestelde jeugkoor en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en lede van die Jeugorkes (KFJO) onder leiding van Brandon Phillips tydens ‘n galakonsert by die Kunstekaap-teater in Kaapstad uitgevoer word.

Voor die ses finaliste om die louere in vanjaar se kompetisie meeding, word Jenkins se komposisie vir die eerste keer in die wêreld uitgevoer word. Eddie Clayton van die Johannesburgse Jeugorkes het die verwerking gedoen met lirieke wat spesiaal vir die Nobel-beraad deur Sibusiso Njeza van die Universiteit van die Wes-Kaap se Creative Arts-koor geskryf is.

Die 70-jarige Jenkins is die lewende komponis wat internasionaal die meeste opgevoer word. Sy orkes- en koorstuk, The Armed Man: A Mass for Peace is al byna ‘n duisend keer in 20 verskillende lande gespeel.

Jenkins, wat bekend is vir sy oorgangskomposisies, was die eerste internasionale komponis wat die Johannesburg Universiteit se Kingsway-koor gedirigeer het tydens sy 2007-besoek aan Suid-Afrika toe hulle The Armed Man: A Mass for Peace met ‘n 70-stuk orkes opgevoer het.

In 1995 verwerf hy beroemdheid met die Adiemus-projek waar hy die klassieke met etniese en vokale klanke en slagwerk in ‘n nuwe genre verweef het. Dit het klassieke- en poptrefferlyste dwarsoor die wêreld oorheers.

“Kunstekaap is geëerd om ‘n platform aan dié uitstaande werk te bied ná die uitstel van die Nobel-vredeskonferensie,” sê Michael Maas, Kunstekaap se uitvoerende hoof.

“Dit is ‘n werk wat die rol van die uitvoerende kunste bevestig, waar vermaak mense oor kulturele, sosiale en politieke skeidslyne saamsnoer.

“Die Kunstekaap Nasionale Jeugmusiekkompetisie vir musikante tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar is die derde grootste musiekkompetisie in die land. Dit is ook die enigste een waar die finaliste onder die begeleiding van die KFO teen mekaar meeding,” sê hy.

Vanjaar is 18 talentvolle jongelinge is tydens uitmergelende uitdunrondes gekies om die laaste vier rondes te speel wat deur ‘n paneel van vooraanstaande musici en akademici beoordeel word.

Die finaliste galakonsert op 18 Oktober begin om 19:30 by die Kunstekaap-teater. Kaartjies kos R100, terwyl pensioenarisse en studente slegs R40 betaal. Besprekings kan by Kunstekaap Bel-‘n-Sitplek 021 421 7695, Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers winkels, of aanlyn www.computicket.com gedoen word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply