Out of Africa

Die Belgiese tenoor Helmut Lotti se gewildheid in Suid-Afrika word bevestig deur die feit dat hy al meermale hier ‘n draai kom maak het. Dit beteken ook dat sy Out of Africa CD wat so gewild is dat dit reeds platinumstatus bereik het, weer groot belangstelling sal uitlok.

Vir dié wat nog nie met Out of Africa kennis gemaak het nie, wag daar ‘n verrassing. Dis nie stywe opera-musiek dié nie. Dis opwindend, polsend en meesleurend – aan die een kant omdat mens meeste van die melodieë ken, maar ook omdat dit ‘n uiters professionele produksie is met ryk, vol verwerkings vir koor en orkes. Daar’s beslis nie afgeskeep toe dié cd gemaak is nie!

Helmut Lotti is mal oor Afrika en Suid-Afrika. Dit hoor mens in die passievolle manier waarop hy ons wysies – Engels, Afrikaans en in van die swart tale – gevat en aangepas en verwerk het om by sy styl te pas.

Die titelsnit “Out of Africa” het Lotti self geskryf. Hy neem mens aan die hand en wys jou hoekom dié uitgestrekte kontinent met sy skerp kontraste hom so aangegryp het. Daarna volg Johnny Clegg se Zoeloe huldeblyk aan Nelson Mandela “Asimbonanga”.

Lotti maak ook ‘n draai in oos- en sentraal-Afrika met die Swahili liefdeslied “Malaika”. Nog ‘n paar hoogtepunte is “Qungqothwane”, oftewel “The Click Song”, “Mbube Wimoweh” – “The Lion Sleeps Tonight”, “Pata Pata”, die onvermydelike “Shosholoza” en “Jikela Emaweni Hamba!”, waarvoor die Bloemfonteinse Kinderkoor by Lotti aansluit.

Natuurlik kon “Sarie Marais” nie uitgelaat word nie en die CD word afgesluit met Lotti se roerende Xhosa- en Sothoweergawe van “Nkosi Sikelel’ iAfrika”.

Baie oorsese kunstenaars het al groot geld uit Afrika en Suid-Afrika gemaak en dit is seker hier ook die geval. Maar mens kry die gevoel dat Lotti opreg is wanneer hy sê dat Afrika hom geraak het. En as hy sorg dat waardering vir ons kontinent en sy musiek in die buiteland groei, sê ons dankie en viva!

Lewer kommentaar

Leave a Reply