Lamont het reeds met groot sukses die volle Goldberg variasies van Bach uitgevoer. Tydens haar uitvoering by Lucit Candles Teater op 16 April gaan sy ‘n minder bekende werk van dieselfde kaliber en gekomponeer deur Beethoven een eeu later, speel. Die werk, Die Diabelli variasies Op. 120 was een van Beethoven se laaste werke wat hy geskryf het toe hy reeds doof was. Anneke wat tans besig is met haar doktorsgraad (‘n vergelyking tussen die Goldberg en Diabelli variasies) gaan dié magistrale werk met die gehoor bespreek en illustreer voor uitvoering.
Lamont het verlede jaar in Augustus saam met die Kaapse Sontonga Kwartet opgetree, ‘n groep wat hulle beywer vir die uitvoering en promosie van Suid-Afrikaanse werk. Tydens dié uitvoerings is komposisies vir strykkwartet uitgevoer afkomstig van twee komponiste uit Kwazulu Natal van wêreldstandaard (Kevin Volans (gebore in Pietermaritzburg) en Priaulx Rainier van Howick.) Van besondere belang was die uitvoering van Volans se Strykkwartet No. 1, White Man Sleeps, wat aan die Natalse komponis internasionale erkenning in die vroeë tagtigerjare besorg het. Die Sontonga Kwartet is in 2002 gestig met eerste violis en leier Marc Uys, nog ‘n Pietermaritzburgse inwoner wat goed naam maak vir homself. Die kwartet het internasionaal opgetree saam met die Handspring Puppet Company se multi-media vertoning, The Confessions of Zeno. Volans en William Kentridge was ook betrokke. Naas Uys, bestaan die kwartet uit Waldo Alexander (tweede viool), Xandi van Dijk (viola) en Brian Choveaux (tjello). Vier toegewyde musici wat ten doel het om Suid-Afrikaanse musiek te bevorder en bekend te stel.
