Pallavi Mahidhara, tans een van die mees belowende jong sterre op die internasionale konsertverhoog, sal op 25 Maart om 15h30 ‘n uitvoering in die Hugo Lambrechts Ouditorium gee. Hierdie pianis, van Amerikaans-Indiese afkoms, het ‘n uitsonderlike tegniek, volwasse musikale insig en ‘n sjarmante verhoogpersoonlikheid.
In 2008 was Pallavi die enigste Amerikaanse finalis wat deelgeneem het aan die UNISA Internasionale Klavierkompetisie en het die prys gewen vir die Beste Uitvoering van ‘n Romantiese Concerto, asook die Gewildheidsprys wat deur die gehoor toegeken word. Sedertdien het sy ter plaatse met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes, die Kaapse Filharmoniese Orkes en die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes opgetree.
As kind was Pallavi gefassineer deur die bekende Amerikaanse televisiereeks Mr. Rogers’ Neighborhood, waarin die klavier haar veral geboei het. Sy het vyfjarige ouderdom met klavierles begin. Op 24 is hierdie merkwaardige jong kunstenaar ‘n veteraan van die konsertverhoog en het sy reeds solo en orkesuitvoerings op vier kontinente gegee. Sy het by verskeie roemryke venues opgetree, o.a. die Chicago Symphony Center, Kennedy Center in Washington DC, Kimmel Center in Philadelphia, National Council of Performing Arts in Mumbai, National Concert Hall in Beijing en Teatro Jovellanos in Spanje.
Pallavi het haar concerto debuut op tienjarige ouderdom in Chicago gemaak. Haar eerste optrede saam met ‘n belangrike orkes was op 14, toe sy die 2de Klavierkonsert van Saint-Saëns saam met die National Symphony Orchestra in Washington DC, onder leiding van Newton Weyland uitgevoer het. Gevolglik het sy saam met die Chicago Symphony Orchestra, Bangor Symphony Orchestra, Corpus Christi Symphony Orchestra, Aspen Concert Orchestra, Banff Festival Orchestra in Kanada, China National Symphony Orchestra in Beijing, Tianjin Symphony Orchestra en Asturias National Orchestra in Spanje opgetree.
As jong kunstenaar het sy verskeie pryse ingepalm by nasionale musiekkompetisies in die VSA. Van die eerste pryse wat sy verower het was in die 2001 MTNA Baldwin Competition, 2002 Julia Crane Young Artists Competition, die Grand Prize by die 2003 Kingsville Young Performers Competition, asook die Eerste Prys by die 2005 MTNA Yamaha Competition. Op 13 het sy, as die jongste deelnemer in die geskiedenis van die kompetisie, die Tweede Prys gewen by die Beethoven Piano Competition in Memphis, Tennessee. Sy was op 16 die jongste ontvanger ooit van die Davidson Fellowship vir haar uitsonderlike prestasies.
As aktiewe kamermusikus het sy met musici van gesiene orkeste, o.a. Academy of St. Martin-in-the-Fields, London Philharmonic en die Vienna Chamber Orchestra saamgewerk. In September 2006 is sy aangewys as Belowenste Jong Pianis by die Verbier Academy in Switzerland. Sy het ook reeds by die Aspen Music Festival en Banff Summer Art Festival opgetree as solis.

Pallavi sal werke uitvoer van Beethoven, Liszt, Debussy en Prokofiev.
Pallavi Mahidhara in Konsert word op Sondag 25 Maart om 15h30 by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Picton Street, Parow, aangebied.
Kaartjies is teen R120, R80 (pensionarisse) en R60 (studente/leerders) beskikbaar by www.webtickets.co.za of by 021 461 3816 gedurende kantoorure. Kaartjies is ook by die deur beskikbaar.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
