Groep 2 met Gert van Tonder en Sias Reinecke was legendaries in Suid-Afrika.  Met hulle groot treffers soos Die Oukraalliedjie, Die Padda Wou Gaan Opsit en Daar Is Niks Soos Ware Liefde Nie, het Groep 2 alle rekords in die musiekbedryf laat spat.  Met hulle gewildheid in Suid-Afrika het hulle ook in 1968 liedjies by die EMI Ateljee in Londen opgeneem (waar die Beatles al hulle treffers opgeneem het).  In hierdie produksie bring Christo Snyman en Pieter Smith hulde aan Groep 2.  Die produksie is een van Lefra se Kelderkonserte en word lewendig aanlyn gestroom op Sondag, 30 Augustus om 17:00.  Om vir die Huldeblyk aan Groep 2 te bespreek, besoek gerus www.itickets.co.za.  Die Lefra Kelderkonserte word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive, Q2V Productions en Savvy Holdings aangebied.

Pieter Smith is 19 Augustus 1975 in Potchefstroom gebore en het op 4-jarige ouderdom begin kitaar speel.  Hy ontvang formele musiekonderrig vanaf ouderdom sewe.  Na sy skoolloopbaan word hy deel van verskeie Rock-groepe. Hy betree die onderwys as musiekonderwyser by Laerskool Queenswood, en verskaf onderrig in kitaar, koor en revue, maar gaan voort om by kuierplekke in Hatfield Square te sing.  Tydens 2001 roep hy die onderwys vaarwel en tree voltyds op as musikant.  Hy skryf self sy liedjies, en spog tans met 9 CD’s.  Sy eerste treffer Vir Jou Sal Ek Blomme Koop en die jongste Staal Burger is ewe gewild.

Christo Snyman is een-derde van die gewilde sanggroep Die Broers, en een helfte van die duo Christo en Cobus.  As deel van Die Broers is Christo saam met Cobus en Nic alombekend vir hul harmonieuse sang en polsende liedjies.  Hulle maak al van jongs af saam musiek en het reeds op laerskool in kore gesing en formele opleiding in onder andere klavier, trompet, kitaar en kontrabas ontvang. Die Broers het musiek as voltydse beroep gekies en toer vandag die land vol met konserte en optredes.  Hulle het sewe albums en drie DVD’s op hul kerfstok waarvan twee albums en twee DVD’s goue status met verkope bereik het.  Christo & Cobus is reeds 24 jaar saam op die verhoog as ‘n duo.  Benewens hul eie treffers soos Trein na Margate en 7×70 is hulle ewe gemaklik met van die gewilde nommers van ons tyd en kruis maklik oor na verskeie genres.  Christo het ‘n solo-album Three Chord Love Songs die lig laat sien.

In Suid-Afrika was daar sedertdien seker nie weer ‘n sanggroep wat Groep 2 se skoene kon volstaan nie.  Dan het hulle boonop, in Januarie 1968, vier liedjies, onder andere Mangwane Mpulele en Little Go Go Girl, in Ateljee 2 van die EMI-ateljees in Abbey Road, Londen, opgeneem, dieselfde ateljees waar The Beatles hulle wêreldtreffers opgeneem het.  Maar moenie dink hulle klem was net op Engelse liedjies nie.

Gert van Tonder, gebore op 29 Junie 1941, is ‘n seun van Bergplaas, ‘n bosboustasie tussen George en Knysna.  Sias Reinecke is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore, en hulle was albei eers trekklavierspelers!  Sias en Gert het mekaar in 1963 ontmoet.  Gert was hoof van die byklanke-afdeling van die SAUK in Durban en Sias ‘n assistent-programbediener in Johannesburg. Eric Eagan van Springbokradio het vir Sias saamgeneem Durban toe om te help met die uitsending van sy oggendprogram. Gert was lid van die folksanggroep The Titans wat dikwels in die radioprogram Om die kampvuur en in konserte saam met Danie Smuts en Heine Toerien opgetree het.  Sias was ‘n trekklavierspeler in ‘n boereorkes.

‘n Jaar later het die SAUK vir Gert Johannesburg toe verplaas en het die twee elke moontlike tydjie gebruik om hulle klank te vervolmaak.  Volksang was destyds besonder gewild en hulle het in ‘n restaurant, Dunk A Doughnut in die kosmopolitiese Hillbrow, begin optree as Folk Two, met R4 per aand en iets te ete as vergoeding.  Hulle het daaraan begin dink om met ‘n Afrikaanse naam Afrikaanse musiek op te neem en een aand, tydens hulle optrede in Battle of the Beats, het Michael Mayer van Springbokradio voorgestel dat hulle Groep 2 heet na aanleiding van die groep, Group One, waarvan Lance James lid was tydens sy verblyf in Engeland.  Hulle eerste openbare optrede was tydens die Primrose-amateur-talentorganisie se Dixieland-konsert met liedjies soos Where have all the flowers gone en Kumbaya.

Mike Heine van Springbokradio was die seremoniemeester en met sy aanmoediging het hulle by Golden Sound Promotions/Goue klank promosies beland wat Jurie Ferreira se hertoetrede tot die musiekwêreld ook hanteer het.  ‘n Solussewe volg in Desember 1966 met Die oukraalliedjie op die een kant en Die padda wou gaan opsit op die keersy.  Die padda wou gaan opsit se gewildheid haal die nuusblaaie wat selfs die lirieke volledig weergee by ‘n spotprent deur die legendariese T.O. Honiball, die vader van die Adoons-hulle-tekenprente.  Engels- en Afrikaanssprekendes versoek die plaat tot so ‘n mate dat dit seker die enigste plaat is wat ooit twee keer in een radioprogram gespeel is!

Ten spyte van hulle sukses besluit Sias, ná hulle toer saam met die Günther Kallmann-koor, om saam met twee koorlede, Monika en Angelika Neuenfeldt, die Treble Aires te vorm.  Gert moet noodgedwonge vir Eddie Trautman as sangmaat vra om as Groep 2 voort te gaan.  Die Treble Aires was nie geslaag nie en na Eddie Trautman se noodlottige motorongeluk in 1971 het Gert en Sias weer begin planne maak om saam te sing met meer ritme, maar dieselfde klank, maar in 1977 moet bewonderaars in die koerante en tydskrifte verneem dat dit Groep 2 se laaste jaar is. Hulle sou die volgende jaar twee damesstemme bykry en as Plus Twee optree. Daarvan het niks gekom nie, want Sias wou maar altyd ‘n solosanger wees. Gert, met sy lisensiaat in spraak- en drama, het intussen bedrywig geraak met rolprent- en TV-rolle, oorklanking, radiowerk en hy was behoorlik in aanvraag as liriekskrywer.  Dit moes hy alles inpas tussen sy verpligtinge, onder andere as bemarkingsbestuurder van ‘n bankgroep.  Talle kinders onthou hom as die aanbieder van die TV-kinderprogram, Wielie Walie.  Reinecke wat in Randfontein woonagtig was, is op die ouderdom van 42 jaar aan ‘n hartaanval oorlede terwyl hy op toer was en pas ná ‘n optrede op Amersfoort. Hy is op 12 Oktober vanuit die Gereformeerde kerk Randfontein, waarvan hy lidmaat was, begrawe.

Die Huldeblyk aan Groep 2 beloof ‘n aand se nostalgiese vermaak, geskik vir die hele gesin, wat enersyds werk as vermaak, maar andersyds ook die nalatenskap van ons baanbrekers weer in fokus bring.  Kry jou kaartjies vir die ongelooflike teaterervaring nou by www.itickets.co.za.

WEN TOEGANG TOT DIE HULDEBLYK AAN GROEP 2 OP SONDAG, 30 AUGUSTUS @ 17:00

Een leser/luisteraar kan toegang wen tot Pieter Smith en Christo Snyman se Huldeblyk aan Groep 2 op Sondag, 30 Augustus om 17:00!   Om deel te neem aan Roekeloos.co.za en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: LEFRA GROEP 2 ROEKELOOS, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP.  Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & ROEKELOOS GROEP 2 KOMPETISIE as onderwerp.  Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.  SMS’e kos R1,50 elk.

Pieter Smith en Christo Snyman

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply