“My kiekies is verwysings, my lewensinventaris
die ensiklopedie van my bestaan
My kiekies is bewyse vir die feit dat ek ook daar was
‘n prentjiekommentaar wat my beaam.
Daar is komedie in my kiekies, ’n skaterlag betraan
deur die afstand tussen destyds en vanaand
Daar is ritme in my kiekies, ’n patroon wat hom herhaal
in die kom en gaan en wegbly van gesigte …”
Met hierdie woorde laat Lucas Maree vir ons ‘n skatkis na… Woorde en kiekies wat vir ons almal herinner aan ‘n lewe wat ‘n groot invloed gehad het.
Bekende Afrikaanse sanger, Lucas Maree, is vroeg verlede jaar oorlede en het die Suid-Afrikaanse musiekindustrie met ‘n leemte gelos.
“Die kiekies en herinneringe wat nooit sal vervaag of verlore sal raak nie is die kiekies wat ons saamdra in ons harte. Lucas het ’n groot leemte in ons harte en plakboeke gelos en ons mis sy gesels, kwinkslae en wyshede elke dag. Sy invloed op al ons lewens is onuitwisbaar en ons was só bevoorreg gewees om deel van sy plakboek te kon wees.” Gesels Ilse Maree, Lucas se vrou.
“Ons het gehoor, maar nie altyd met aandag geluister na sy lirieke nie – iets wat ons nou doen as die verlange te groot word. Dan weet ons presies wat hy vir ons probeer sê het.”
“Ons wil ons herinneringe met almal deel. Ons as gesin het besluit om ‘n nuwe cd vry te stel met al Lucas se gewildste of bekende songs ook, maar saam hiermee deel ons dan ook foto’s wat vir ons betekenis inhou – as’t ware ‘n deel van Lucas se lewensinventaris…”

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)