Vandat hulle die musiekbedryf vir die eerste keer betree het, het die gewilde Suid-Afrikaanse musiekgroep, Posduif, gewys dat hulle nie net uniek is nie, maar ook vasbeslote is om grense te verskuif.
Hierdie lente bou hulle voort op dié tendens met die gelyktydige vrystelling van twee splinternuwe liedjies wat verskillende aspekte van die veelsydige groep ten toon stel.
Volgens hoofsanger en kitaarspeler, James Boland, het hulle besluit om vir die eerste keer twee nuwe liedjies op een slag bekend te stel om die twee kante waaruit die groep bestaan te beklemtoon en vir luisteraars te wys wie hulle regtig is.
“Daar is altyd twee kante aan Posduif. Die ernstige, nostalgiese, en familievaste kant wat diep omgee en gewys word met liedjies soos “Kaalvoet kinders“ wat weergee wie ons in ons siele is. Dan is daar ook die lighartige, prettige kant wat beklemtoon dat ons lekker kuiermense is, altyd bokke is vir sports en daarvan hou om te lag en ons vriende te terg soos wat ons met “Voetfout” doen,” verduidelik hy.
Die groep bestaan uit Boland, Nick Jordaan (ritmekitaarspeler en sanger), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) en Nick McCreadie op die dromme.
“Kaalvoet kinders”, een van die eerste enkelsnitvrystellings vanaf hulle nuutste album Brandstiger, vang die onskuld en avonture van kinderjare vas.
Hierdie alternatiewe pop-snit, vertel die storie van hoe daardie eenvoudige tye ons lewens vorm en blywende herinneringe skep.
Die liedjie is geskryf deur Boland en Jordaan, met insette van die hele groep, en vervaardig deur Brendan Campbell.
Volgens die band kom die inspirasie vir die liedjie van die vreugdes en vryheid wat hulle as kinders ervaar het—“die avonture van grootword, speel in die bos, en die lewenslesse wat ons daaruit geleer het”.
“Dit verteenwoordig die kern van ons album, die idee van terugkeer na jou wortels en die invloed van die verlede op wie ons vandag is,” deel hulle.
Verder glo hulle ook dat dié lied ’n sterk emosionele band met luisteraars sal skep, aangesien dit ’n gevoel van eenvoud en opregtheid oproep wat baie mense sal waardeer.
’n Treffende musiekvideo van die snit is ook binnekort beskikbaar.
In teenstelling met “Kaalvoet kinders”, bied hulle tweede vrystelling, “Voetfout”, ’n lighartige benadering tot die uitdagings van romanse.
Dié liedjie, wat ook in die alternatiewe pop-genre val, vertel die storie van ’n ou wat jammer moet sê nadat hy sy meisie verneuk het. Hy probeer verduidelik dat dit net ’n “voetfout” was, en dat hy steeds baie lief vir haar is.
Hierdie groepspoging is geïnspireer deur ’n vriend van hulle wat in ’n soortgelyke situasie was. “Hy het een aand ’n meisie gesoen en was baie spyt, en moes aan sy meisie verduidelik,” verduidelik hulle.
Dit is ’n tong-in-die-kies liedjie oor vergifnis soek en die behoefte om dinge reg te stel.
Baie mense sal kan identifiseer met die ervaring van iets doen wat nie groot skade aanrig nie, maar groot skuldgevoelens na die tyd bring.
“Die vriend van ons en sy meisie was baie nuut by mekaar, so ons het hom nie baie jammer gekry nie en op die ou end was alles oukei,” voeg hulle by.
Posduif is in 2018 gestig en het hulle debuut gemaak met die liedjie “Brandy Special“, wat meer as 400 000 trefslae op sosiale media gehad het. Sedertdien, het hulle verskeie ander treffers vrygestel en is hulle deur Bok Radio benoem as Groep van die Jaar en vir Liedjie van die Jaar. Hulle vorige album, Niks Vergelyk, het in 2022 die SAMA gewen vir beste pop-album.
Buiten vir ’n hele paar splinternuwe liedjies en samewerkings met ander kunstenaars, kan bewonderaars ook uitsien na heelwat toere en vertonings vir die res van die jaar, waaronder openingsvertonings vir Kip Moore en Dennis Rucker asook Kaptein en Vriende by Montecasino in Oktober.