deur Ferdi Wheeler
Hy mik na Gatsby’s Den, om ‘n drankie te drink, iets te eet en dalk ‘n potjie pool te speel en te kyk hoe die meisies paaldans. Hy stap die sowat 800 meter van die karavaanpark af. Hy volg die paadjie wat parallel met die geteerde snelweg loop. Karre ruis verby en verlig sy rankerige figuur in hul hoofligte, want dit is al skemer.
Van ver af kan hy die ligte van Gatsby’s Den sien . Die skaduwees van ‘n paar mense wat op die stoep rondstaan, is sigbaar. Hulle bespreek heel waarskynlik nou die middag se sokkerwedstryd. Dan is hy in die lig wat helder skyn by die voertuig-ingang en op die gruis van die parkeerarea.
Reg in sy pad na die trappe wat na die stoep lei, kom hy ‘n man en ‘n vrou teë. Hy is nog vyftig tree van hulle af, maar hy kan sien die twee stry. Die man, ‘n atleties geboude karakter met ‘n prominente uitstaande haakneus, probeer sy arm om die vrou se skouers sit, maar sy hou aan om hom af te skud. Terwyl hy naderkom, herken hy die vrou as een van die paaldansers in die nagklub langsaan die kroeg.
“Moet asseblief nie teruggaan daarheen nie,” hoor hy die man sê.
“Ek kan nie jou besitlikheid verdra nie,” sê die vrou. “Ek het ook ‘n lewe om te leef … Maar jy verstaan dit net nie. Ek is nie ‘n teenage floozy, wat wag vir jou om my te red nie. Verstaan jy dit nie?” Die vrou praat met groot klem op haar woorde en sy frons erg.
Hy gaan verby die ongelukkige paartjie en gaan die stoep binne. “Haai, Kaleb!” roep iemand na hom uit die meer skaduagtige holtes van die stoep. “Jy is laat man,” sê die stem en lag.
“Ja, ek is. Het ‘n probleem gehad met die gas by die sleepwa,” sê hy, maar stap verder deur die stoep-area tot by die kroeg. Hy gaan sit op ‘n stoeltjie. Die kroeg is net halfvol. Dit sal van negeuur af oorvol raak.
Die vrou wat agter die toonbank werk, nader hom. Sy is in haar middel vyftigs. Sy het eens fyn gelaatstrekke gehad, maar nou is haar gesig erg gerimpel. “Hallo, Kaleb. Wat sal dit wees?”
“Die gewone,” sê hy.
“Soms drink jy die ongewone,” antwoord sy en kyk hom in die gesig.
“Is die brandewyn en Coke nog teen afslag?”
“Ja.”
“Maak dit dan ‘n dubbel,” sê hy en bestudeer haar, terwyl sy haar rug op hom draai. Hy het eenkeer gehoor hoe sy vir ‘n polisiesersant in die polisie se intelligensie-afdeling sê sy werk soort van klandestien vir hulle. So rapporteer sy koppelaars en dwelmslawe en wie weet wie nog. Dit maak dat hy haar wantrou. Wie weet, as jy haar op die verkeerde manier opvryf, kan sy jou nog onderdeur spring.
Sy kom terug met die dubbel en vat sy geld. Sy begin ander bedien en hy kyk rond, terwyl hy tussendeur brandewyn teug. Hy ken die meeste van die gesigte daar en het geleentheid gehad om met sommige van hulle te praat, nadat hy sowat ‘n maand gelede in die sleepwapark aangekom het. Die ou man dadelik aan sy linkerkant is so ‘n afgetrede regiment sersant-majoor, die man langs hom met die begin van ‘n boggelrug, is ‘n bankklerk en so gaan dit aan. Inderdaad baie gewone siele.
Regs van hom sit ’n meisie wat by die nagklub se kaartjievenster werk, wanneer dit negeuur in die aande oopmaak. Die jongetjie langs haar is haar broer. ‘n Dwelmslaaf, oor wie sy baie beskermend is. Hy weet, want sy het ‘n ou gedreig, wat ‘n paar dae tevore na sy dwelmgewoonte verwys het.
“Kaleb,” sê die man wat hom op die stoep geroep het skielik langs hom. “Wat van ‘n potjie pool?”
Kaleb kyk na die man. Sy naam is John Crowther, ’n onderwyser by ’n tegniese hoërskool op die dorp, as hy reg onthou. Dis eintlik ‘n mislike vent. Die ou kan nie sy drank vat nie en word baie luidrugtig en in ‘n bakleierige bui, wanneer hy ook al dronk is.
“Sekerlik,” sê Kaleb, nieteenstaande.
Die kroegvrou hoor hoe hulle praat en bring twee stokke wat agter die toonbank teen die muur gestaan het. John oorhandig vir haar ‘n R10-noot vir kleingeld om pool mee te kan speel.
Hulle speel vir byna ‘n uur. Getrou aan sy aard, begin Jim om sy stok rond te slaan, wanneer hy sleg speel. Kaleb is gou keelvol vir sy speelmaat en kyk na ‘n man wat op ‘n bankie teen die muur van die poolkamer sit.
“Gee jy om om teen Jim te speel,” vra hy die man. Laasgenoemde knik.
“Nee hel!” roep Jim uit. “Ek wil eers ‘n kans hê om jou te klop,” sê hy verontwaardig.
Maar Kaleb is klaar gespeel. Hy sink die swart bal en sit die stok op die tafel neer. “Alles joune,” sê hy vir die man op die bank, draai om en los ‘n nors Jim om teen sy nuwe maat te speel.
Die kroegbywoning het merkbaar gegroei, terwyl hy pool gespeel het. Sitplek is dus skaars en hy kan net ‘n staanplek by die een hoek van die kroegtoonbank kry. Hy ken nie een van die nuwelinge nie en hou homself eenkant. Dit is kwart voor nege en hy wag net tot die nagklub oopmaak. Hulle bedien goeie kos daar. Aangesien hy nie middagete of aandete gehad het nie, wil hy gaan sit en ‘n ete bestel.
“Die klub is nou oop!” skree die kroegvrou op die slag van nege-uur.
Kaleb is een van die eerstes wat wegbreek en na die ingang van die nagklub beweeg, waar hy die vereiste die R70 toegangsfooi betaal.
Daar is ‘n verhoog in die middel van die saal wat hy binnegaan. Die tafels en stoele, met opgestopte rugleunings, is in ‘n sirkel om die verhoog gerangskik. Die lig is gedemp, behalwe vir die verhoogarea, waar helder ligte skyn. Kaleb kies ‘n tafel naby die ingang en gaan sit. Vier kelners vertoef in die skaduhoeke en hy sit skaars, voor ‘n opgewekte meisie sy bestelling neem. Hy vra vir ‘n steak en brandewyn en Coke.
Die gaste stap die kamer binne terwyl Kaleb sy steak eet en sy brandewyn drink. Die beskikbare tafels word een na die ander beset. Die bui is onstuimig. Dit is almal mans wat bymekaar is, behalwe die gasvroue en paaldans-meisies, wat met die kliënte meng. ‘n Ander ou sluit by Kaleb se tafel aan. Hy is ‘n varsgesig jeugdige in sy vroeë dertigs genaamd Jonty. Hy laat Kaleb lag met die entoesiastiese manier waarop hy praat. Die pure vreugde waarmee hy praat, vertel dat die lewe vir hom steeds ‘n avontuur en opwindend is. Anders as Kaleb, in sy vroeë vyftigs, wat dit al alles gesien het.
Hulle het gesels en hy is nog besig om sy aandete klaar te maak, toe die vrou wat met haar man gestry het, nader kom en langs Jonty gaan sit.
“Hallo,” sê Kaleb.
“Hallo, Nathalie,” sê Jonty.
“Hallo,” sê sy en kyk nuuskierig na hulle.
“Wat sal ons drink?” vra Kaleb.
“Ek sal ‘n Brutal Fruit hê – enige geur,” sê sy.
“Ek sal dit gaan haal,” sê Jonty.
Kaleb gee vir hom die geld en Jonty stap weg kroeg toe. Hy bestudeer die meisie oor sy brandewyn en Coke. Sy is nogal mooi. ’n Donkerkop met amandelvormige bruin oë. Sy lyk baie gelukkiger as ‘n uur of wat gelede, dink hy. ‘n Interessante ding van haar is dat ‘n foto van die Mexikaanse kunstenaar, Frieda Khalo, die hele voorste deel van haar bloes bedek. Verder dra sy handskoene waarop dieselfde prentjie van Khalo, in die miniatuur, vertoon word.
“Ek sien jy hou van Frieda Khalo,” sê Kaleb en leun vorentoe om die gelykenis te bestudeer.
“Ja, ek doen,” sê sy en steek ‘n gehandskoendehand na hom uit. “Ek hou van sterk vroue wat suksesvol is. Sy kon haar man hanteer.”
Kaleb is beïndruk. Hy neem haar hand en bestudeer die prentjie. “Baie interessant,” sê hy en leun weer terug in sy stoel.
Op daardie oomblik is ‘n groep studente besig om hul teenwoordigheid duidelik te maak. Hulle sit op ‘n hoop by twee tafels wat een tafel van Kaleb s’n verwyder is.
Jonty keer terug met Nathalie se Brutal Fruit en terselfdertyd draf een van die studente, aangepor deur sy maats, na die verhoog, waar hy ‘n lomp paaldansvertoning gee. Dan strompel hy weer terug en word met luide toejuiging deur sy mede-feesgangers ontvang.
“Pla sulke geklikheid jou nie?” vra Kaleb.
Nathalie kyk glimlaggend na hom, oënskynlik ongestoord. “Hulle het net pret,” antwoord sy.
“Hulle is bronstig,” sê Jonty tussenbeide en lag en kyk na die studente.
Nou is daar ‘n nuwe verwikkeling. Jim kan gesien word waar hy oor die tafel waar hy sit, leun en ‘n ander man met een hand in die gesig gryp. “Fok jou!” skree hy vir die man. Laasgenoemde slaan sy hand weg en staan op en leun vorentoe in Jim se gesig in, in na-aaping van Jim se houding.
Kaleb bekyk die spulletjie en wonder of hy nie maar moet gaan nie. Die aand is duidelik besig om te ontaard. Dit gebeur soms. Die rumoerige studente en ‘n plofbare mentaliteit soos Jim s’n, is net die regte bestanddele om ‘n genotvolle aand hel toe en terug te stuur.
Net dan begin die paaldansery egter, wanneer ‘n wulpse blondine ligvoets op die verhoog verskyn en met groot vertoon begin dans. Daar is meer walglike opmerkings van die studente.
By hul tafel blyk Jim en die man met wie hy ‘n konfrontasie gehad het, weer in vrede met mekaar te leef. Albei kyk na die paaldans in stilte en met opgewonde aandag, te midde van die algemene chaos wat deur die studente veroorsaak word.
Nathalie kyk die dansroetine uitdrukkingloos saam met Kaleb en Jonty. Maar dan kom haar man deur die ingang en stap stadig na haar toe. Hy stop langs Nathalie en kyk stip na haar. Dan, met ‘n geboë wysvinger, steek hy ‘n arm uit en streel Nathalie se wang.
Kaleb staar na die man. Hy het ‘n baie regop houding, soos iemand wat gewoond is aan die militêre lewe. Haar man se verskyning ontlok ‘n verdedigende houding by Nathalie. Sy vou haar arms voor haar borste en kyk die man in die gesig, sonder om ‘n oog te knip.
“Hallo, my lief,” sê die man.
“Wat maak jy hier, Douw?” vra sy.
“Ons leef in ’n vrye wêreld. Selfs die hoerhuise is nou oop vir almal,” sê hy en waai ‘n arm teatraal in die lug.
“Jy weet niks van vryheid nie, jy is ‘n despoot,” sê sy en klap na sy hand, terwyl hy weer haar wang probeer streel.
Hy glimlag en kyk met minagting na Kaleb en Jonty.
“Loop, Douw,” sê sy hard.
“Dit hang nie van jou af nie, vrou. Ek is ook vir ‘n lekker tyd hier,” sê hy en stap tot almal aan tafel se verligting weg na die ander kant van die tafelsirkel, waar hy ‘n leë sitplek kry.
“Hy lyk soos moeilikheid,” sê Kaleb lakonies.
“Hy is mal… Sal my nie rus gee nie,” antwoord Nathalie en drink afgetrokke uit haar glas met die geparfumeerde vodka. Sy gaan nie een woord meer oor hierdie Douw sê nie, soveel is duidelik.
Intussen maak die blonde meisie haar roetine op die verhoog klaar en ontruim dit.
Die studente, klaarblyklik gereelde besoekers aan die nagklub, roep nou vir Nathalie en dreunsing haar naam:”Nathalie! Nathalie! Nathalie!”
Sy glimlag en ledig haar glas en staan op. Kaleb kyk hoe sy na die verhoog stap. Haar vel lyk poeierwit in die fluoresserende ligte. Die harde gejuig van die studente dra haar vorentoe.
Aan die anderkant van die vertrek sit Douw roerloos en gluur na haar. Sy gooi op haar beurt haar Frieda Khalo-trui af, wat haar net geklee laat in die swart deursigtige sy-uitrusting wat sy dra. Sy begin haar paaldans-roetine. Maar iets kort in haar aanbieding. Sy glimlag skaars en kyk ook nie na haar gehoor nie, veral nie na studentehoekie nie, waar al die wolfgefluitery nou vandaan kom.
Kaleb se aandag is verdeel tussen Nathalie en Douw. Hy voel dat daar moeilikheid kom. En hy hoef nie lank te wag nie. Skielik staan Douw op en stap na die verhoog. Eers lyk dit of Nathalie hom nie raaksien nie. Wanneer hy egter die trappe bestyg, huiwer sy merkbaar, maar gaan dapper voort. Douw beweeg op sy beurt met ‘n koue vasberadenheid. Hy is omtrent vyf tree van haar af, toe sy stop en na hom staar.
Kaleb sien die weerkaatsing van die lem van die jagmes in die lig. Hy staan op en besef dat iets verskrikliks gaan gebeur. En dit doen. In een vinnige beweging steek Douw die lem in haar maag in. ’n Geskokte stilte sak oor die nagklub neer. Hulle sien hoe Douw bo Nathalie uittroon. Laasgenoemde is hande-viervoet. Dan val sy plat op haar gesig, haar lyf ruk krampagtig.
Nou eers reageer die gehoor. Kaleb hardloop na die verhoog saam met drie vinnige studente. Douw draai om en kyk na hulle, terwyl hy die jagmes in sy regterhand gereed hou. Die drie studente duik egter hom soos een man plat, sonder om beseer te raak.
Kaleb kniel langs Nathalie. Donkerrooi bloed vloei onder haar lyf uit. Hy weet sy is dood. Die lyf is stil en toe hy haar kop draai, staar die bruin oë leweloos in die niet. Hy kyk geskok op. Ander lede van die gehoor is nou ook op die verhoog. Van die verhoog af word Douw wreed behandel. Hy word geslaan, geskop en verskree.
Kaleb staan op.
“Staan terug!” skree ‘n man, heel waarskynlik ‘n polisie-agent. Kaleb trek terug. Die vrou, wat in die kaartjiekantoor werk, verskyn.
“Wie het dit gedoen?” skree sy histeries. Sy kry Kaleb, naaste aan die lyk, in die oog. “Jy?” vra sy en wys ‘n vinger na hom. Verlore vir woorde kan hy net wys in die rigting van die nabygeveg waar die moordenaar dit nog van alle kante kry.
Kaleb is skielik yskoud van vrees. Die vrees vir die dood. Hy gee ‘n paar treë agteruit, draai dan en sny ‘n lyn na die uitgang toe. Buite in die parkeerarea stop hy vir die eerste keer. Hy steek ‘n sigaret aan en in die glans van die buiteligte kyk hy na sy bewende vingers. Ander stroom uit die nagklub. Almal babbel opgewonde. Die geluid van ‘n polisiesirene wat nader kom, kan gehoor word.
Kaleb weet hy wil niks verder met die smerige besigheid te doene hê nie. Hy ignoreer die voetpaadjie en begin eenvoudig deur die veld na die sleepwapark loop.
Hy het eenkeer ‘n meisie geken wat ‘n gewelddadige dood gesterf het. En hy het dit weer vanaand sien gebeur. Soos dit jare gelede gebeur het. Daar was toe ook baie bloed. Agter hom was ‘n woedende skare. Voor hom eindelose paaie om te verken, tog kon hy nie ver genoeg wegkom nie. Feit is: herinneringe kleef aan jou en daar is geen manier om ‘n afstand tussen jou en dit te plaas nie.