Rina

Rina Hugo het nie net ‘n uitsonderlike stem nie – haar opleiding as klassieke sangeres gee selfs aan haar ligte liedjies ‘n afronding en professionaliteit wat haar laat uitstaan.

Rina vier haar vyftien jaar van voortreflikheid as sangeres van die ligte liedjie met die uitreiking van die album wat haar vir die eerste keer toelaat om die volle omvang van haar stem te gebruik.

Daar is drie jaar lank sorgvuldig materiaal ingewin met ‘n fyn ingesteldheid op haar aanhangers se versoeke. Die treffersnit op die album is moeilik om te kies, maar daar is sowaar min mense wat die aangrypende “Time to Say Goodbye” so voortreflik soos Rina vertolk. Maar dan is daar ook haar hoendervleis-weergawes van “Love Changes Everything”, “I Have a Dream” en “Don’t Cry for Me, Argentina”. Afgesien van die saamsing-treffer “Tjienkerientjie”, haar man, Johan van Rensburg se heerlike verwerking van die Leipoldt-gedig, spog die album ook met heelwat ander Afrikaanse materiaal – onder meer ook “Verlore en Alleen” wat deur niemand minder as Leon Schuster geskryf is nie. Heel gepas, want Schus het vyftien jaar gelede ook van Rina se eerste lirieke geskryf. Haar sang-kollega, Anneli van Rooyen, het gesorg vir “Môre Lyk dit Anders” en “Jy Bly Werklikheid vir My”.

Johan van Rensburg en die belowende jong musikant, Deon Roberts, het gesorg vir die volle simfonie-orkesklanke op baie van die snitte. Glynn Storm het die verwerkings vir meeste van die nommers gedoen. As ‘n bonus is al die lirieke van die nommers op die omslag aangebring.

Rina is ‘n produksie van Boet Pretorius en dit word bemark deur Decibel Musiek. Dit is op cd en kasset beskikbaar by alle toonaangewende musiekwinkels.

Lewer kommentaar

Leave a Reply