Seisoene van die lewe

Carike Keuzenkamp het voor in die ry gestaan toe aangename karaktertrekke uitgedeel is. Sy is opreg, geesdriftig, vriendelik, mededeelsaam, positief – almal kwaliteite wat gehelp het om haar een van gewildste Afrikaanse kunstenaars ooit te maak.

Daarby het sy natuurlik nog die stem, musiektalent en ‘n heerlike verhoogpersoonlikheid ook. Geen wonder dat sy al 30 jaar lank die een suksesvolle album na die ander uitreik nie.

Carike vier die nuwe jaar met ‘n spilternuwe cd Seisoene van die lewe en al het sy seker al ophou tel hoeveel albums sy agter die rug het, vra haar duisende aanhangers net altyd vir nog. Natuurlik is daar mense was neus optrek en sê dat haar werk voorspelbaar is. Maar die meeste van vandag se in-groep Afrikaanse kunstenaars sal wat wil gee op so lank soos sy op die sukseskruin te wees.

Carike se loopbaan het in die sestigerjare begin met die Jamie Uys-fliek Die Professor en die Prikkelpop, wat die onsterflike “Timothy” opgelewer het. Daarna het die een treffer na die ander gevolg met “Byeboerwa”, “Dis ons land” en “Heidi” van die heel bekendstes.

Op Seisoene van die lewe is daar onder meer ‘n snit wat hulde bring aan Tolla van Der Merwe, wat beslis ‘n treffer gaan wees. Ander pragtige snitte is “Kunstefees in die Klein Karoo”, “Kyk in my oë”, “Vir elke droom”, “Children”, “Free as an eagle” en, as toegif, ‘n keurspel ou gunstelinge soos “Those were the days”, “I’d like to teach the world to sing”, ut your hand in the hand”, “Puppet on a string” en “Green green”.

Seisoene van die lewe word uitgegee deur BMG.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar