Cor, die ander Van Gogh

Hoewel die herdenking van die Anglo-Boereoorlog iets van die verlede is, is daar nog baie stories uit die oorlog wat vertel moet word. Een daarvan is die verhaal van Cor van Gogh, die jongste van die 3 Van Gogh-broers, broer van die bekende Vincent en Theo.

Anders as die beroemde skilder en sy broer die kunshandelaar en finansiële steunpilaar van die Van Gogh-familie, was Cor ´n “onbenullige mens”, ´n “kleine man”.

Hierdie drama, geskryf deur Naòmi Morgan, kyk na ´n tema wat deur verskeie 20ste eeuse dramaturge aangespreek is: kan ´n “kleine man” ook ´n tragiese figuur in die dramatiese sin van die woord wees?

In die 5 tonele waaruit die drama bestaan, kry Cor 5 kanse om sy merk te maak: hy kies in watter land hy wil bly, watter loopbaan hy wil volg, hy kies ´n vrou, hy kies om ´n saak te ondersteun (in hierdie geval om aan die kant van die Boeremagte te veg) en uiteindelik moet hy kies of hy sy eie lewe gaan neem, soos sy ouer broer Vincent. Op die verhoog word Cor bygestaan deur ´n moderne weergawe van die Griekse koor, deur die kwota-sisteem verminder tot die anonieme ‘Man, Vrou en Vrouman’. Die gebeure is histories; die laaste toneel speel in 1900 in Brandfort af.

Die regisseuse, Daleen Krige, kombineer hierdie historiese gegewens met ´n moderne, multi-media aanslag waarin sy bande lê tussen die rol van die koor en die eensaamheid van die akteur op die verhoog en, met behulp van klank- en beeldmateriaal, tussen werklikheid en herinnering of hallusinasies. Sy word bygestaan deur ´n span akteurs wat by monde van die hoofspeler, JP du Plessis, die gehoor voorstel aan ´n emigrant, ´n Nederlander, ´n delwer, ´n goeie soldaat, en wat in die skadu lewe van twee merkwaardige broers. Die koor bestaan uit die veterane Karin Scholtz, Hercules Nel en nuweling Richard Smit. Die drama kan byna beskryf word as ´n monoloog met koorbegeleiding: JP du Plessis het hierdie lang en emosie-belaaide teks sy eie gemaak op ´n manier wat die toeskouer dankbaar sal maak dat daar nog instansies is wat bereid is om onbekende werke en spelers te borg.

Woordspel-produksies wil dan ook hul dank uitspreek teenoor die Stichting Neerlandia wat hierdie opvoering moontlik maak, en so ook PACOFS, vir die beskikbaarstelling van die perfekte teater vir ´n teks wat van die bande tussen Afrikaner en Nederlander dramatiewe gegewe maak.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply