Die sensasionele Sjinees-Amerikaanse pianis Claire Huangci maak op Sondag 15 Mei haar eerste buiging op die Kaapse verhoog, met ‘n uitvoering wat werke deur Bach, Beethoven, Chopin en Tjaikovsky/Pletnev insluit. Hierdie opwindende konsert, wat om 15h30 begin, is die tweede konsert wat deel uitmaak van ‘n reeks gewilde Sondagmiddagkonserte by die manjifieke Hugo Lambrects Ouditorium in Parow.
Die eerste helfte van die uitvoering bestaan uit Bach se betoworende Partita No. 2 in C mineur, Beethoven se minder bekende “Rondo Rage” over a lost Penny en sy grootse Sonata Op. 101 in A majeur. Die tweede helfte bestaan uit Chopin se monumentale Sonata No. 3 in B mineur Op. 58 en die uiters virtuose “Sleeping Beauty Suite” wat op Tjaikovsky se beroemde balletmusiek gebasseer is. Die verwerking is gedoen deur die legendariese Russiese pianis Michael Pletnev.
Op die ouderdom van 21 het Claire Huangci alreeds ‘n groot aantal prestasies op haar kerfstok en word sy hoog aangeskryf waar sy ook al optree. Vladimir Krainev, wenner van die 1970 Tjaikovsky Internasionale Klavierkompetisie, het onlangs na haar verwys as die pianis met die “vinnigste vingers ter wêreld”.
In 1999, op die jeugdige ouderdom van 9 jaar, was Claire die wenner van die “Grand Prize“ by die World Piano Competition. Deel van haar prys het ‘n konsert in die wêreldberoemde Carnegie Hall ingesluit, asook keuring om by die gesogte Curtis Institute in Philideplphia te studeer. In 2006 het sy die eerste prys in die 57ste Kosciuszko Chopin Internasionale Klavierkompetisie in New York ingepalm. Teen hierdie tyd het sy reeds ‘n rits solo en concerto-uitvoerings agter haar naam gehad.
Op ouderdom 17 het sy haar eerste optredes in Europa gehad met o.a. solo uitvoerings in München, Frankfurt en die beroemde Salle Cortot Hall in Parys, asook optredes met toonaangewende orkeste. In 2009 het sy die eerste prys in die Europese Chopin Internasionale Kompetisie in Darmstadt verower en in 2010 die eerste plek, sowel as ‘n spesiale prys in die 8ste Nasionale Chopin Kompetisie in Miami, Florida.
Hoogtepunte in die huidige seisoen sluit optredes met die Miami Symphony o.l.v. Maestro Philippe Entremont in, asook uitvoerings in die Duszniki Chopin Fees in Pole en toere na Europa, die VSA, Japan en Suid-Afrika.
Sedert Oktober 2007 is Claire ‘n student aan die Hannover Hochschule für Musik in Duitsland, onder die toesig van die befaamde klaviermeester Professor Arie Vardi.
Die ouditorium van die Hugo Lambrechts Musieksentrum, wat akoesties as een van die top konsertsale in Suider-Afrika beskou word, is gesog vir optredes deur ‘n verskeidenheid puik plaaslike en internasionale kunstenaars. Musiekliefhebbers word genooi om ‘n ontspanne Sondagmiddag te kom geniet met ‘n wonderlike musiekprogram en ‘n sny koek en vars gebroude koffie as verversings, in die pragtige mileu van die musieksentrum.
Kaartjies vir die klavieruitvoering van Claire Huangci by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Pictonstraat (Parow) op 15 Mei om 15h30 kos R110, R70 (pensionarisse) en R50 (studentse/leerders). Besprekings kan gemaak word by www.webtickets.co.za of 021 939 9105 (kantoorure) / 072 133 0267 (na-ure). Kaartjies sal ook by die deur verkoop word.

