Sêr 2013

Sêr is terug en dié keer skop ons op ’n hoë noot af!

Die eerste seisoen van Sêr het verlede jaar behoorlik mense aan die praat gehad en vanjaar gaan geen uitsondering wees nie. Sêr volg die drie jong en baie talentvolle aanbieders, Lee Scott en die tweeling, Marco en Marcel Spaumer, waar hulle by die vyf hoof universiteitskampusse ’n draai maak om te sien hoe hulle koshuise oefen vir die jaarlikse Universiteite Sêr.

Vanjaar word Sêr weer verfilm en sal daar 9 episodes op KykNET Musiek uitgesaai word. Hierdie episodes is propvol onderhoude met van die bekendste gesigte in ons land, wat self in hulle jare aan Universiteite Sêr deelgeneem het. Hierdie bekendes sluit in groepe soos Flip a coin, aKing, Die Heuwels Fantasties, Johan C Venter, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Hugo Ludick van die groep, Adam, en Vaughan Gardiner (om net ’n paar te noem!)

Universiteite Sêr is die grootste en gewildste, jaarlikse sangkompetisie vir koshuisgroepe, waar hulle a cappella teen mekaar meeding. Hierdie a cappella-sangkompetisie bestaan uit mans- en damesgroepe van elke universiteitskampus, wat ná hulle kampus-uitdunne, deurdring na die groot finaal.

Verlede jaar het Maties se Hippokrates Dames en Hippokrates Mans by die finaal in Bloemfontein as algehele wenners uit die stryd getree. Vanjaar is die Noordwes-Universiteit (Pukke) die gasheer vir hierdie kompetisie. Kyk hoe sing Maties, Kovsies, Tuks, UJ en Pukke weer teen mekaar vir hierdie gesogte titel.

Sêr begin op 4 Augustus om 17:00 op KykNET Musiek, kanaal 146 op DSTV.

Sêr aanbieders Lee Scott, Marco Spaumer en Marcel Spaumer
Sêr aanbieders Lee Scott, Marco Spaumer en Marcel Spaumer

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar