Die vellies

Die seuntjie vra die juffrou om te help om sy skoene aan te trek.

Sy probeer met ‘n gedruk en getrek om die vellies aan die kind se voete te kry. Teen die tyd wat sy by die tweede skoen kom, breek daar al ‘n lagie sweet op haar voorkop uit en begin haar hare al slierte hang soos sy stoei om die vellies aan die kind se voetjies te kry. Dis toe dat die mannetjie so tussen sy vier afwesige voortandjies sê,”Juffrou, hierie eerthte vellie ith aan die verkeerde voet.”

Sy kyk en so wrintiewaar, die vellie ís aan die verkeerde voet. Die uittrek van die vellie aan die verkeerde voet gee nóg ‘n gespook af. Die juffrou hou kop en begin maar weer om die vellies aan die régte voete aan te trek, steeds met een helske gesukkel. Amper klaar, kondig die mannetjie aan: “Juffrou hierie ith nie my vellieth nie.”

Die juffrou ontplof byna, maar hou kop en sê kalm, “Hoekom het jy nie vroeër gepraat nie?” Die gestoei begin weer om die vellies uit te trek.

Pas is die vellies uit of meneertjie sê weer: “Dith my boetie the vellieth. My ma het gesê ek moet dit vandag dra want myne is weg.” Die juffrou sluk droog, skraap al haar moed bymekaar en begin weer stoei om die vellies aan die voetjies te sit. Uiteindelik is hulle weer aan die mannetjie se voetjies.

Die mannetjie trek aan die juffrou se baadjie en vra verleë: “Juffrou,wat van my kouthe?”
Jufffrou skree: “Nou waar is jou kouse?”
Die knapie antwoord: “Dith voor in my vellieth.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply