Daar’s ’n sekere gevoel wat net die somer kan bring – sout op jou vel, ’n kitaar teen sononder, en ’n vakansieromanse wat jy nooit vergeet nie. Dis presies daardie gevoel wat Shan Read vasvang in sy splinternuwe enkelsnit, “Onthou” – ’n lied wat jou terugneem na daardie tyd toe die lewe eenvoudig was en jou hart vinniger geklop het.
Na die sukses van sy debuutsnit “Spreek Jou Vry”, keer Shan terug met ’n lied geïnspireer deur sy eie herinneringe as tegnikus op die Hartenbos Groot Fees-verhoog oor Desembertyd.
“Ek wou nog altyd ’n Afrikaanse song skryf wat vir my dieselfde gevoel gee as Boys of Summer van Don Henley of Summer Nights uit Grease – ’n song wat jou laat verlang na iemand of na ’n somer wat jy onthou. Ek raak self vinnig verlief, so ek kan heeltemal identifiseer met daardie gevoel. As jy saam met iemand ’n vakansieromanse het, kan hierdie sommer julle song wees vir die somer,” vertel Shan.
Shan se loopbaan strek reeds oor jare in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy het saam met van die grootste name gewerk – waaronder Theuns Jordaan, Ricus Nel, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Ampie, Liezel Pieters en Liza Nel. Ná sewe jaar as Ricus Nel se akoestiese kitaarspeler en ’n suksesvolle agter-die-skerms loopbaan by produksies soos Afrikaans is Groot, Innibos, Krone en Noot vir Noot, is hy nou gereed om 2025 as solo-kunstenaar te oorheers.
Aan “Onthou” het Shan saam met Fred den Hartog (kitaarspeler van Die Heuwels Fantasties en vervaardiger), Murray Lubber (vervaardiger) en Juan “Floors” Oosthuizen (vervaardiger en kitaarspeler) gewerk.
“Ek is ongelooflik dankbaar dat ek al jare lank vriende is met hierdie talentvolle ouens. Hulle het die potensiaal in die song raakgesien en my met alles van produksie tot verspreiding – deur Coleske Artist Distribution – gehelp,” sê Shan.
Met ’n ryke agtergrond in die musiekbedryf en ’n enkelsnit wat jou somer herinneringe weer lewendig maak, is Shan Read besig om sy plek as solo-kunstenaar in die Afrikaanse musieklandskap vas te sement.

