Sanger en liedjieskrywer, Sharine Barnard, wat vir haarself ’n nis uitgekerf het met haar filosofiese uitkyk en die unieke wyse waarop sy die liefde in haar musiek ontleed, se debuutalbum is nou beskikbaar.

Die album, getiteld WORDS FAIL ME PART 1, bevat tien liedjies wat, volgens Barnard, die afgelope 18 maande van haar lewe en menswees saamvat. “Soms ervaar ’n mens dinge so intens dat dit voel of daar nie woorde is om dit te beskryf nie, asof ’n mens niks het om te sê nie. Maar die inhoud van die album verteenwoordig eintlik die teenoorgestelde. Elke liedjie spreek boekdele,” verduidelik sy.

Agt van die snitte op die vrystelling, wat deur 2 Tone Records vervaardig is, is deur die musikant self geskryf.

“Aanvanklik sou die album uit tien oorspronklike liedjies bestaan het, maar daar was sekere gebeurtenisse wat gedurende die skryf van die musiek ’n baie groot impak op my lewe gehad het. Een daarvan was die afsterwe van my musiekonderwyseres, wat ’n reuseleemte gelaat het. Ek het ‘Sonvanger’ opgeneem ter nagedagtenis aan haar en om te help om daardie verlies te verwerk. ‘Wicked Game’ was nog ’n lied wat my gedurende die maak van my album baie na aan die hart gelê het. Ek het dus besluit om dié twee liedjies in te sluit omdat dit deel van my storie vorm.”

Om die album te vier, het sy ook besluit om gelyktydig nog een van die enkelsnitte wat daarop verskyn vry te stel. Jy is my Babes volg kort op die hakke van You’re the Liar en While You Love Somebody Else – saam met kletsrymer Joel Parker – wat baie goed deur radiostasies en luisteraars ontvang is.

Jy is my Babes gaan oor hoe ons, soos ons ouer word en meer verantwoordelikhede het, vergeet om steeds spottend verlief te wees op ons maat. Die lied gaan oor om te onthou om mekaar af en toe te laat weet dat julle steeds van mekaar hou, so deur die besige gang van ons lewens. En om lekker goedjies saam te doen. “So baie faktore dra by tot swak kommunikasie en min tyd, en dit is maklik om te vergeet hoe belangrik dit is om steeds verlief te wees en tyd vir mekaar te maak,” deel sy.

“Hierdie liedjie gaan oor die gevoel van verlief wees. Dit vat jou terug na daardie ‘eerste liefde’ en die dom goed wat jy doen en sê as jy verlief is – oulike bynaampies en mekaar spot oor simpel goed word ’n integrale deel van hoe ons mekaar laat voel. Maar hoe ouer ons word en hoe meer verantwoordelikhede ons het, hoe makliker vergeet ons om spottend lief te hê, om te let op die dinge waarop ons aanvanklik verlief geraak het, en om soms sommer net laf te wees en grappies te maak.”

Volgens Sharine is hierdie liedjie – wat sy op ’n vlug van Johannesburg na Kaapstad geskryf het – een van haar gunstelinge op WORDS FAIL ME PART 1. “Dit is werklik ’n goedvoel-liedjie wat jou laat glimlag as jy daarna luister. Ons almal ken tog die gevoel van jonk en verlief wees, van sorgeloos wees en net die lekker uit die lewe tap.”

Sy werk ook tans saam met Gerduan Kemp aan ’n musiekvideo vir hierdie snit. Die video, nes die enkelsnit, beklemtoon jonk en verlief wees, en beeld ’n jong paartjie op skool is uit. “Daar is iets spesiaal aan hoe jong paartjies tyd saam met mekaar prioritiseer, al is dit net ’n vinnige geselsie so tussen die akademie en sportoefeninge deur – hoe hulle vir mekaar ’n vinnige drukkie gee, skaam glimlag, of sommer net uitbundig saam lag. Die video vang dit perfek vas,” verduidelik die sanger.

“Ek hoop dit herinner mense daaraan dat dit belangrik is, ongeag hoe oud ons is of hoe lank ons al in ’n verhouding is, om te onthou om sorgeloos te lewe, tyd vir mekaar te maak, en sommer net weer verlief te wees.”

Jy is my Babes is die laaste snit op haar debuutalbum, wat 18 maande geneem het om te voltooi. “Ek het dit werklik geniet om aan my album te werk – die reis van begin tot einde. Dit was ’n proses en dinge het soms in ’n oogwink verander. Vir die beste natuurlik! Want met musiek is daar geen grense nie. Dit is die wonder daarvan. Die ervaring het my ook geleer om geduldig te wees, en my net weer laat besef dat niks onmoontlik is nie.”

Aangesien haar musiek so uiteenlopend is, en met die liedjies op haar album wat al die verskillende fases van iemand liefhê en verlief wees dek, voel Barnard dat ’n wye verskeidenheid luisteraars die album sal geniet en daarby aanklank sal vind.

Dié veelsydige vrou, wat in Jan Kempdorp grootgeword het, was nog altyd mal oor musiek, maar het eers in grendeltyd besluit om haar musiekdroom uit te leef. Haar ander groot liefdes is diere en gesondheid – dié veelsydige vrou is die eienaar van Bagamoya Wildlife Estate, wat ’n veilige hawe bied vir leeus, ape, en selfs ’n tier, asook Ozone Clinic, ’n osoonterapie-kliniek wat kliënte help met gesondheid, sportprestasie, sportsgenesing. Sy is self ’n kranige sportvrou en het al aan verskeie driekamp- en tweekamp-kampioenskappe deelgeneem.

Sy het ook het reeds aan haar volgende album begin beplan, en beoog om Words Fail Me Part 2 volgende jaar vry te stel. Ander planne vir 2025 sluit optredes reg oor Suid-Afrika in en “om net die lewe te geniet en elke oomblik koester. ’n Mens besef nie aldag hoe vinnig tyd verbygaan en hoe kort die lewe eintlik is nie,” sluit sy af.

Sharine Barnard foto Johan Pretorius
Sharine Barnard, foto: Johan Pretorius

Lewer kommentaar

Leave a Reply