Die gewilde groep Van Der Aven het pas `n video uitgereik vir die tweede enkelsnit vanaf hul debuut EP (Van Der Aven) wat einde 2022 uitgereik is. Die liedjie “Slaap Jy Al” word tans op radio-speellyste gelaai en kry nou ook ’n nuwe baadjie met die uitreiking van ’n musiekvideo.

“Slaap Jy Al” bespreek die idee van onsekerheid en miskommunikasie in verhoudings en verteenwoordig Van Der Aven se groei na `n meer alternatiewe rock klank. “Slaap Jy Al” volg kort op die hakke van die groep se debuut-liedjie, ’n oorspronklike verwerking van die gedig “Heimwee” wat deur JRL van Bruggen geskryf is. “Heimwee” speel tans op stasies landwyd insluitende RSG, Jacarandafm, Bok Radio, Grootfm en vele meer.

“Slaap Jy Al” is die eerste enkelsnit van Van Der Aven waar hul eie oorspronklike lirieke tentoongestel word. Die EP was opgeneem by Sunset Recording Studios net buite Stellenbosch met die hulp van die bekende musiekregisseur Jürgen von Wechmar.

Oor die nuwe lied verduidelik skrywer, sanger en kitaarspeler, Roelof van der Merwe, “’Slaap Jy Al’ is een van ons gunsteling songs om op te tree vir gehore, want ons kan sien en hoor hoe mense hulself meeleef en verloor in die musiek. Die lied vertel die storie van kwesbaarheid, onsekerheid en twyfel en kom vra dan die vrae: leef ons bymekaar verby of hoe naby is ons daaraan om mekaar te verloor?”

“Vir Slaap Jy Al” se musiekvideo het Hugo Brand, (hy het ook die groep se debuut- musiekvideo geskiet) weereens sy rol as videograaf ingeneem saam met SW Strauss as vervaardiger. Brand en Strauss het al voorheen saam gewerk op film en televisie produksies, maar hierdie is die eerste musiekvideo wat hulle saam aangepak het. Die akteurs Lara Hattingh en Len- Barry Simons speel die paartjie in die video. “Die konsep van die video was om ’n troebel verhouding en die verskillende fases daarvan vas te vang op unieke en abnormale maniere. Dit was regtig ’n baie lekker ondervinding om saam met Van Der Aven te werk!” sê SW Strauss.

Slaap jy al – Van der Aven

Van Der Aven is ’n onafhanklike alternatiewe rock groep wat bestaan uit drie lede, naamlik Roelof van der Merwe (skrywer, sanger en kitaarspeler), Theunis van der Merwe (sanger en baskitaarspeler) en Paul Avenant (sanger en tromspeler). Die naam Van Der Aven is ’n samestelling van die lede se vanne. Al drie lede is Karoolinge met Paul wat vanaf Murraysburg afkomsig is en die twee broers vanaf Beaufort Wes. Van Der Aven is in 2020 aangewys as die wenners van Band Or Bust by die 2020 US Woordfees en het al die geleentheid gehad om die verhoog te deel met kunstenaars soos Elvis Blue, Francois van Coke, Arno Carstens, Droomsindroom, Glaskas en Spoegwolf.

Van der Aven, Foto: Dawid van Niekerk

Van Der Aven – liedjies op die EP

Heimwee
Mona Lisa
As Ons Almal More Sterf
Easy
Slaap Jy Al
Afskeid

Van Der Aven EP cover
Van Der Aven EP

Lewer kommentaar

Leave a Reply