Spoorlangs is Andries Bezuidenhout se vierde solo album. Hierdie nuwe album se titel kom van die eerste snit af, waarvan die naam ook “Spoorlangs” is – dit werk met die idee van ʼn trein wat op vaste spore ry, maar voete en wiele wat kan verdwaal. Dis ʼn tipe ondersoek na rigting en rigtingloosheid, dat om te verdwaal ook ʼn manier is om jou rigting te vind.
Andries en sy vrou Irma du Plessis het in 2018 na Alice in die Oos-Kaap getrek. Hierdie is Andries se eerste album waarvan die meeste van die musiek hier geskryf is. Andries vertel: “My musiek gaan nog altyd oor plekke en landskappe, mense wat daar woon of daardeur reis, op pad êrens of nêrens heen. My pa se kant van die familie kom van hierdie deel van die land, hulle het in Adelaide en King William’s Town gewoon. Ek moes egter die landskap van voor af leer ken, so die idee van terugkeer na my roots is bloot simbolies. Die geskiedenis hier is diep en dramaties. Oorloë het hier afgespeel, dis waar van die eerste sendingstasies in die omgewing opgerig is. Baie van die geboue van weleer het verval, sommige word weer gerestoureer. Vir my is musiek, digkuns en skilder ʼn deel van sin maak van waar ek myself bevind, wat waarskynlik die rede is waarom dit so ʼn sterk tema is.”
Spoorlangs het ook twee liedjies met isiXhosa lirieke. “Umasizakhe” se refrein is ʼn tradisionele lied uit die struggle tydperk wat oor grond (umhlaba) handel. Die ander een handel oor Alice self en die rol van sendelinge in die dorp se ontstaan. Andries haal Tiyo Soga se klassieke lied “Lizalis indanga lakho” aan – die lied is so wyd bekend dat dit selfs in kerke met oorwegend Sothosprekende gemeentelede as Xhosatalige weergawe gesing word.
“Linte vir twee trourokke” is ʼn onkonvensionele opname. Aan die begin klink dit asof dit deur ʼn grammofoon speel. Andries verduidelik: “Dis deels gesprekke met Willem Möller wat my raadgewer met die opnames was, wat vir my belangstelling in die geskiedenis van klankopnames verantwoordelik is. Ek het ook baie van ʼn herinterpretasie van die ou Jiddisje lied “Bei mir bistu shein” gehou (deur Vibers), wat ʼn reaksie om die oorspronklike opname deur die Andrews susters is.
Op “Klavierles by Mev. Kaplan” is daar ʼn musikale tema uit Claude Debussy se bekende “Clair de lune”, of dan die derde beweging van sy Suite bergamasque. Hieroor sê Andries: “Dis die mees ambisieuse musikale projek wat ek nóg aangepak het. Die lied handel oor twee kinders wat ʼn duet van Claude Debussy oefen en moet opvoer. Die verwysing na Debussy kom nou wel nie uit ʼn duet nie, maar uit sy Suite bergamasque. Ek wou dit in ʼn tipe jazz verwerking verander en moes self die baskitaar speel, ʼn instrument wat ek nog glad nie bemeester het nie.”
Andries se vriendin Joey Kok, wat ook op Onplaats verskyn, is weer vir agtergrondsang verantwoordelik. Haar stem is in ʼn groot rondawel opgeneem, in die Bosveld naby Bela-Bela. Andries vertel meer hieroor: “Grasdakke is wonderlik vir akoestiek en rondawels het nie hoeke waar weerbarstige basfrekwensies kan gaan sit en saamsweer nie.”
Sang, instrumente, programmering, opname en meng deur Andries Bezuidenhout; agtergrondsang op “Spoorlangs”, “Klavierles by Mev Kaplan” en “Waarheen vandaan” deur Joey Kok. Klankmeester deur Willem Möller. Alle lirieke en melodieë deur Andries Bezuidenhout, behalwe ʼn tema van Claude Debussy op “Klavierles by Mev Kaplan”, isiXhosa woorde in “Umasizakhe” tradisioneel en in “Lied vir Dikeni” deur Tiyo Soga. In Alice, Oos-Londen, Nieu-Bethesda en op ʼn plaas buite Bela-Bela opgeneem. Klankmeester by Sharp Street Studios in Glencairn.
Spoorlangs is 1 Junie 2021 deur DistroKID vrygestel op digitale platforms: Spotify, Apple Music, YouTube, ens. Stroom dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/andriesbezuidenhout1/spoorlangs
Goeie nuus vir Andries Bezuidenhout en Brixton Moord en Roof Orkes se aanhangers is dat van hul gewilde uitreikings nou ook aanlyn beskikbaar is. Hierdie titels sluit in: Brixton Moord & Roof Orkes se Slaaptyd in die suburbs, Terug in skubbe en Spergebied, met bonus snitte (lewendige opnames uit 1999) en Bezuidenhout se Insomniak se droomalamanak.
Albums
Insomniak se droomalmanak (2003, Rhythm Records) – Solo.
Bleek berus (2009, One-F Records) – Solo.
Onplaats (2020, Die Wasgoedlyn) – Solo.
Spergebied (2002, Rhythm Records) – Brixton Moord en Roof Orkes.
Terug in skubbe (2005, Rhythm Records) – Brixton Moord en Roof Orkes.
Slaaptyd in die suburbs (2014, Onafhanklik) – Brixton Moord en Roof Orkes.