September is Erfenismaand, en die Suidoosterfees vier vanaf die 21ste dié spesiale gebeurtenis op Suid-Afrikaners se kalender met twee Lockdown Legato-aanbiedings: Kaapsentriek en Maestro’s en mentors. Kunstenaars wat in uiteenlopende genres uitblink kom byeen om met dié opwindende produksies ’n unieke belewenis vir gehore te skep.

Lockdown Legato: Kaapsentriek en Lockdown Legato: Maestro’s en mentors sal vanaf 21 September 2021 weekliks aanlyn as musiekvideo’s op die Suidoosterfees se sosialemediaplatforms gratis aan die publiek vrygestel word.

Met dié projek kry jong, opkomende kunstenaars die geleentheid om hul vaardighede te slyp terwyl hulle die verhoog met hul mentors deel. Van die musiekgenres wat in die produksies verteenwoordig word, sluit in: opera, jazz, klassiek, inheems, kabaret, rymklets en rock. Kunstenaars wat optree tel onder die land se gewildstes: Die Heuwels Fantasties, Anna Davel, Kyle Seconna, Loukmaan Adams, Pierre van Heerden, Amanda Tiffin, Anathi Mobo, Zenobia Kloppers, Early B, Tarryn Lamb, Nicole Holm en nog vele ander.

Lockdown Legato: Maestro’s en mentors

Zenobia Kloppers, bekend vir haar rol in Fiela se kind, kombineer inheemse musiek met opera. Sy tree op saam met die bekende Die boekklub-aktrise, Nicole Holm, wat kabaret na die tafel bring. Anna Davel, Kyle Seconna en die pianis JJ Petersen versoen kabaret, jazz, pop en ligte musiek wanneer hulle kragte op die verhoog saamsnoer.

Een van Suid-Afrika se belowendste jong jazz-sterre, Anathi Mobo, betree die verhoog saam met haar mentor, Amanda Tiffin. Dié geleentheid beloof om uitsonderlik te wees. Pierre van Heerden, bekend vir sy rol in die verhoogproduksie The Lion King, tree saam met Loukmaan Adams op. Hulle sorg vir eg Suid-Afrikaanse klanke wanneer hulle onder meer Halala Afrika vermeng met die Maleise koorlied Rosa.

Lockdown Legato word deur Suidoosterfees aangebied, in samewerking met Stad Kaapstad, Arts and Culture Trust (ACT), Business Arts South Africa (BASA) en die Wes-Kaapse Departement van kultuursake en sport. Marcus Desando van ACT sê hy kan nie dink aan ’n beter manier om Erfenismaand te vier nie. “Musiek is ingeweef in Suid-Afrikaners se DNS. Deurdat kunstenaars en kykers die geleentheid kry om grense tussen genres oor te steek, word ons unieke erfenis op vernuwende maniere verryk.”

Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees se direksie, wys daarop dat die Lockdown Legato-aanbiedings momentum aan die fees se ontwikkelingsprojekte gee tydens die pandemie. “Buiten die kruisbestuiwing wat plaasvind wanneer uiteenlopende genres gekombineer word, word sinergie tussen borge en vennote wat ons passie vir ontwikkeling deel, in die hand gewerk. Dit is vir ons belangrik om die kunste toeganklik te maak, juis daarom word dit gratis aangebied.”

Die Stad Kaapstad se Burgermeesterskomiteellid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Raadslid Zahid Badroodien, is opgewonde oor die inisiatief. “Jong, talentvolle kunstenaars kry waardevolle aanmoediging tydens die werkswinkels saam met mentors. En as bonus kry hulle ook die geleentheid om saam met dié ervare kunstenaars op te tree. Ons is trots daarop om aspirantkunstenaars op dié manier te ondersteun.”

Die musiekvideo’s sal vanaf 21 September 2021 weekliks tot vroeg in November deur die Suidoosterfees se sosiale media vir die publiek se genot beskikbaar gestel word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply