Tassenberg Rock Show, Cederbergfees

deur Linda Lounge

Is dit dagga wat ek ruik? Ek neem aan die persoon wat dit rook het ook die sitplekke uitgepak. Ek hou van sit, maar by ‘n rock show? Is ek terug in Port Elizabeth?

Bogenoemde was my eerste gedagte oor wat ek gesien het by die tent in Clanwilliam. Maar dit was nie dagga nie, ek dink dit was die strooi in die sakke waarop ons moes sit. En dit was toe glad nie ‘n slegte idee nie. En dank die vader ek was toe nooit meer in PE nie, maar by die 2005 Tassenberg Rock Show in Clanwilliam.

Wat ‘n nice venue. Weet die mense van Clanwilliam hoe gelukkig hulle is om sonder enige storm of drang na Trompie is dood, Delta Blue, Abel Kraamsaal, Jan Blohm, Gian Groen (ook die mc) en Jesse Jordan te luister.

Laat ek eers al die tewery agter die rug kry. Wat gaan aan met Jan Blohm? Toe ek hom die eerste keer gesien het in Gordonsbaai het ek gedink kwaai. Nou druk hy ‘n sigaret in sy kitaar wat hy nooit rook nie en laat my meer aan ‘n drama queen dink as ‘n rocker. Heeltemal te groot vir sy bril.

Tassenberg Rock Show, 2006
Tassenberg Rock Show, 2006

Maar so sien ek hulle kom en gaan. Hulle begin almal goed, dan raak hulle vol van hulself en dan raak hulle op size vir Weigh-Less. En dan stap ek maar net weer by ‘n show in. Dit is soos my verhouding met Anna wat vir my tee bring by die werk EN EK DRINK NIE TEE NIE. Dit help nie meer ek praat met Anna nie, ek vat dit net.

Maar voor jy dink ek hou nie van Jan Blohm se musiek nie wil ek graag die volgende noem: Fok hy het goeie control oor sy instrument en al sy hammocks vind hy. En het daai girl in die hoek wat ons laat sidder het met haar sewe-op-‘n-Richterskaal-boesems hom nie ge-like nie!

Jesse Jordan
Jesse Jordan – I’m ready for my close-up Mrs De Mille
Is Jesse Jordan nie ‘n mooi mannetjie nie. “Ek hoop hulle steek vir altyd sy Ritalin weg.” het ek gedink terwyl ons in sy sweet gestort het. Hy het na die tyd kom chat en ek het vir ‘n oomblik oorweeg om hom in my rugsak te stop.

Hier moet ek net ietsie inprop oor daai gawe vrou van Tassenberg wat ons met wyn begrawe het, Lizaan van Zyl en haar vriendelike side-kick Niel Kruger. Indien ons alles moes uitdrink sou ons nou nog daar gesit het. Ek het bietjie gedeel met Trompie is dood.

My hart verlang na die Boland, waar die Tassenberge troon ... (Lizaan van Zyl en Niel Kruger)
Lizaan van Zyl en Niel Kruger

Hoe meer ek vir Trompie sien hoe meer val dit my op hoe ‘n groot verskeidenheid mense van hulle musiek hou. Die poppies gaan aan die hop voor die verhoog en agter in die saal kap die oumas ook ‘n toon. En ek hou van daai girl se houding.

Trompie is dood
Trompie is dood
Maar Delta Blue het die beat gesteel met Gerald Clark wat die bekfluitjie stoot soos Vincent van Rooyen. Daar was iets magical in die klank en die hele gehoor het dit aangevoel. Al is ek hulle grootste fan het ek eerlikwaar nie gedink ek sou ooit die dag sien wat ‘n gehoor hulle op ‘n aand bo al die ander bands verkies nie.

My nuwejaarswens vir 2006 gaan wees vir ‘n borgskap vir volgende jaar se rock show. (Ek is die een met die baie wyn.)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar