Raye is duidelik besig om haar stem te vind met This Music May Contain Hope. Baie moderne popalbums verwar emosionele eerlikheid met ’n dramatiese vloermoer. Raye herinner ons met die intrapslag dat emosie stylvol kan wees.

Haar nuwe album beweeg roekeloos tussen soul, trip-hop, jazz-akkoorde en orkestrale pop sonder om ooit die tema te verloor. Elke lied klink asof dit op die rand van ineenstorting aangebied word en dis wat hierdie album haar gravitas gee. En soos altyd is dit Raye se half sigaretrook, half kerkkoor stem wat selfs die mees uitbundige refreine met ’n vreemde broosheid aanbied.

Wat die album besonders maak, is juis hoe die hoop aangebied word. Dis nie ’n mooi Hollywood storie nie. Hoop is morsig. Hoop huil in die Uber huis toe. Hoop drink nog een glas wyn. Hierdie liedjies verstaan emosionele oorlewing.

Daar is oomblikke waar dit voel asof die album amper té veel idees het, maar selfs hierdie oordaad werk in haar guns. Dis die klank van ’n kunstenaar wat ophou vra het vir toestemming.

This Music May Contain Hope is nie net nog ’n pop album nie; dis ’n selfportret van iemand wat geleer het dat kwesbaarheid soms die mees dekadente vorm van selfbeheersing is.

Lewer kommentaar

Leave a Reply