Thys ontbloot

deur chrisman baard

Hoe ken jy my? As een wat die fluff in die Afrikaanse musiekbedryf slegsê. Een wat opkom vir goeie lirieke met ‘n kreatiewe (ver)draai(ing), en wat swaar sluk aan nóg ‘n Kombuis of ‘n Rauch, ‘n Gé of ‘n Sonja. Een wat die kuns-kant uitsoek en die geld-kant as, hoogstens, ‘n neccesary evil probeer verdra. (Al dié goed lê op my website, www.chrismanbaard.co.za, as jy belangstel om te gaan koekeloer.) Maar vandag sukkel ek om dié twee wêrelde uitmekaar te hou. Vandag – die dag waarop ek Thys ontbloot.

Vandag slaat ek Thys Streicher, alias die Bosveldklong, op die punt waar elke gewilde musikant op sy/haar sensitiefste is; so gesê: op die solar plexus van Thys Bosveldklong se openbare wese – sy image. Ek gaan hom dalk nie vernietig nie, maar ek gaan hom bitterlik seermaak. Híérvan gaan hy moeilik herstel. Want, sien, ek het iets van Thys Bosveldklong agtergekom – ‘n geheim wat hy van Jan en San Publiek wegsteek. Jarrre lank al. Maar nou maak ek ‘n einde daaraan: verdoeseling verdryf! Ek out Thys. (Nee, wag nou, hy’s nie gay nie! Sy skandaal is nóg erger …)

Laat ek eers gou vertel hoe ek dié Geheimnis Thyses agtergekom het. Was onbepland. ‘n Mens kan nie beplan om op ‘n radio-uitsending tussen 1 en 3 in die oggend, lewend (as ‘n mens daai tyd van die môre “lewend” kan noem) saam met ‘n celebrity in die ateljee te wees nie. Dit gebeur net: ‘n hoër hand beskik dit … of ‘n laer een, dalk. ‘n Mens kan jou dit ook nie ín-organiseer dat hy biltong – wild – en lawaaiwater – nog wilder – saambring nie. Maar jy kan toelaat dat hy (dis nou TB) dit mildelik uitdeel, en dat hy (weer TB) ook van dié gifte verinnig, en dat hy (eweneens TB) onbewus sy pose drop, en homself raak. Thys ontbloot homself. (Figuurlik gesproke, natuurlik!)

Dis dié dat ek nou in die vermoë is om Thys Bosveldklong se beeld onherroepelik te skaad. En ek gaan dit nóú doen. Diegene wat graag “St.” voor hulle name skryf, moet nou maar liewers ophou lees – hier kom ‘n vierletterwoord. Want Thys is ‘n vierletterwoord, en so-ook sy geheime skandaal. Hier’s dit nou: Thys is … slim.

Daar’s-hy, dis uit! En TB kan my maar sue ook as hy wil, oor dié exposé. Want ek kan my saak bewys dat Thys só is, en lankal só is:

Elke keer as mammas en pappas by die Spur gaan eet, en die kiddies jippie oor die inkleur- en kloutergoed, moet hulle maar vir TB bedank. Was sý idee. Twee dekades later is dié besigheidsin al goed op homself gefokus: 15 000 kopieë van sy nuwe DVD is binne 3 weke verkoop. Wie verkoop súffel DVD’s? Miskien is dit maklik as jou naam Sting is, of Madonna, en jy die hele wêreld oor jou movies kan loop smous. Maar as jy net verkoop aan ons bietjie Afrikaansetjies? Boonop, om pseudo-Mandela en -Tutu te inkorporeer by sy tradisionele Bosvelddiervel dress suit, en dan nog Steve Pampoen en Juanita Ska-rumba met kitchen-Zoeloe te verfonkfaai, dít vat nogal serious local genius daai.

TB het ôk ‘n sagte kant. Hy maak werk vir ‘n hele paar mense in sy familie. (Solidariteit kan maar kennis neem van dié ekonomiese familie-model.) ‘n Paar keer al by charity shows het my spioene hom gespy sy fooitjekkie teruggee (maar moet nou nie gaan klik by sy rekenmeester nie!). Na biltong en brandewyn dié ateljee-aand, gesels ons musiek en politiek en mense se swaarkry en langafstandry. Agter al die uitbundige grapskaters en die wittand-glimlagte kán TB een ding net nie wegsteek nie: sy brein wérk. Hy dink oor dinge. Hy neem homself nie so ernstig soos hy die lewe neem nie; vandaar dat hy wat dalk ‘n las kon wees – sy lyf – omswaai (en à la Elvis heen en weer op die verhoog swaai ook – shakin’ Thysie?) in ‘n bate. TB besef sy musiek is volkskuns, nie hoogkuns nie; hy weet ook die volk kan issiegrimmig wees en jou enige dag, sommer net so, drop. Daarom kan Thys meer as net volksvermaak pleeg. Laat jy hom toe, speel hy Koos Dup dat jou wimpers drup. Wat my laat wonder: kruip daar nie agter dié larger-than-life persona iemand weg wat nog meer kan lewer as selfs ‘n Kinders van die wind nie … ? Dalk, Sprokie van ‘n Boskind … ?

Ek’s jammer, man, Thys, dat ek jou public image bubble so moet laat bars. Nou weet die wêreld jy’t brains, al speel jy die “ammal-se-pel”-spel beter as enige ander sanger in SA. Ek sien mos hoe bespeel jy die gehoor by jou shows, nes ‘n mens ‘n musiekinstrument tokkel. Ek hoor ook hoe jy Jean Michel Jarre, nog altyd te flashy vir my smaak, aarde toe bring. Eenvoud maak ook mag. En dít vat kopkrag.

chrisman baard is liedjieskrywer en sanger, woonagtig (en twyfelagtig) in Pretoria.

Lewer kommentaar

Leave a Reply