Die Pretoriase sanger-liedjieskrywer Bacchus Nel het meer as een Damaskus-ervaring gehad.
Eers is sy liefde vir musiek deur sy ma se broers ontlont. “Die een het in ’n one-man-band in die Holiday Inn gespeel. Die ander broer het tydens sy pas uit die army met sy kitaar kom kuier en ek het in die kamer inge-sneak om dit uit te check. Dit was magic!”
Die tweede was toe ’n deeltydse verkoopsman van Standerton, Stephen Nel, sy sig weens ’n motorongeluk verloor het, maar met nuwe oë na die wêreld begin kyk het. Deur musiek, stories en woorde het Bacchus Nel die lig gesien. Die krag van dié hergeboorte is die hartklop van sy jongste album, Tussen junk en jewelry – ‘n versameling van twaalf splinternuwe liedjies met Riku Lätti wat die produksieleiding behartig het.
Tussen junk en jewelry is ‘n album van teenstrydigheid. Dit is dié aangrypende spel met kontras wat Nel genoop het om die titel te kies. “Daar is ’n bietjie junk en jewelry in alles.” Musikaal wissel die stemmings ook van die voete-jeuk saamsing-deuntjie van Ons ry die nagmerrie bloots tot die hunkering en heimwee op die titelsnit met sy country-klank wat plek-plek selfs aan die goeie ou dae van die Briels herinner.
Nel is meer as net ‘n blinde sanger en digter. Liedjies soos “Sondagoggend basement blues” en “Vrou van kennis goed en kwaad” illustreer sy oorrompelende talent as storieverteller wat met akoestiese rock, country, folk en selfs blues tot wyedoek-ervarings uitgebou is. In die ateljee is Nel omring deur top-musikante. Albert Frost, Gerhard Barnard van die Brixton Moord en Roof Orkes en Dawid Katz speel almal kitaar. Marissa West sing op verskeie liedjies saam met Nel en speel ook die bekfluitjie. Riku Lätti speel beide die kitaar en orrel. Dan is daar ook Rian Britz (trekklavier), Aiden Martin (mandolien), Olof Berg (banjo), Simon Kruger (baskitaar) en Peter Auret (tromme).
Die album – wat volg op sy debuut-album, In die arms van die nag – is gestroop, dog vol beeldryke wêrelde bedrup met poësie. Sonder tierlantyntjies. En die eenvoud word verder deur onderstreep wanneer Nel sê: “Ek wou net ’n album maak wat lekker luister.” Hoewel hy verskeie gunstelinge het tussen dié gerf nuwe skeppings, sonder hy wel Bitterblou uit as een van die snitte wat vir hom persoonlik uitstaan. “Ek sing dié wat ek geniet en geniet dié wat ek sing.”
Tussen junk en jewelry is ‘n skatkis vol oorspronklike musiekjuwele deur ’n rockdigter wat soos ’n eietydse troebadoer sy luisteraar op ’n reis neem.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)