Met die Valiant Swart-trio kan teatergangers uitsien na Valiant se eiesoortige Afrikaanse blues- en folk-liedjies, deurweef met humor en deernis, en sketse van die langpad en die liefde. Al die ou gunstelinge word voorgesit, met ‘n paar nuwe komposisies van sy mees onlangse album Nagrit ook op die spyskaart.

Die vertoning word aangebied in trio-formaat. Saam met Valiant se sang, kitaar en bekfluitjie, word die musiek aangevul deur die bekende Simon Orange op klawers, en perkussie-meester Jorik Pienaar op tromme.

Die klawer-veteraan Simon Orange is reeds sedert 1990 ‘n instelling op die Kaapse musiektoneel. Sy stylvolle klavier en orrel het deur die dekades geskitter op tallose albums en vertonings van ‘n wye verskeidenheid kunstenaars. Hy was ‘n stigterslid van die Blues Broers en tree al vir meer as twintig jaar saam met Valiant op. Die natuurlike samespel tussen hierdie twee ou vriende is die resultaat van honderde nagte saam op die verhoog en in die ateljee.

Jorik Pienaar is ‘n ervare jazz- en rock-tromspeler wat ook al baie saam met Valiant opgetree het. Oorspronklik van Pretoria, waar hy ‘n kwalifikasie in jazz-musiek verwerf het (hy is ‘n ewe bedrewe kitaarspeler), het hy sy merk gemaak met groepe soos Not My Dog en ‘n verskeidenheid jazz- en rock-ensembles. Hy was ook agter die tromme op Piet Botha se ikoniese Suitcase vol winter. Hy woon die afgelope paar jaar in Kaapstad, waar hy hom sommer gou op die plaaslike musiektoneel gevestig het – trouens, hy is deesdae die tromspeler vir, onder andere, die Blues Broers.

As jy hou van eersteklas vermaak en goeie musiek, is hierdie ‘n vertoning wat jy nie durf misloop nie.

Die trio is by Die Boer Teaterrestaurant, Durbanville, vir ‘n vertoning op Vrydag, 23 Maart om 20h30. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Lewer kommentaar

Leave a Reply