Neil Sandilands se Vyftig Apokriewe klink soos ’n man wat diep in sy eie argiewe krap en dan besluit om nie die stof af te vee nie. En dis hierdie growwe, rou benadering wat jou aandagtig laat luister.
Die titel is slim gekies. Die sogenaamde apokriewe boeke is tekste wat nie in die Protestantse Bybel opgeneem is nie. Sandilands gebruik dié idee as ’n estetiese kompas. Sy liedjies voel soos verlore evangelies van die Afrikaanse platteland en meeste gooi ’n skaduwee van herinnering.
Musikaal sluit die album hierby aan. Dis iets tussen folk, Karoo-blues en boeremusiek, maar met ‘n moderne aanslag en sonder die oormatige nostalgie wat dikwels sulke projekte versmoor. Sandilands se rou stem en asemhaling laat elke frase gewig dra.
Vyftig Apokriewe voel soos ’n soeke na identiteit. Die identiteit van mense met ’n gedeelde historiese agtergrond in ’n moderne, meer vloeibare samelewing. Sandilands se apokriewe vra nie vir aanvaarding nie, dit skep hul eie kanon … en in die proses dalk die Afrikaanse album van die jaar.

