Aartappels

Solanum tuberosum

Aartappels het baie ruimte nodig. ’n Paar vierkante meter is nodig om die knolle te kweek wat ondergronds ontwikkel.

Aartappels verkies sandgrond, maar sal in meeste grondsoorte groei – behalwe stywe kleigrond. Werk kompos of mis by die grond voor jy aartappels plant. Spit die grond lekker diep om voor jy plant. Moet nie dat die mis aan die moere raak aan nie, dit kan verrotting veroorsaak.

Koop goeie moere vir jou aartappels. Sorg dat dit staatsgesertifiseerde moere is en dat een moer gemiddeld tussen 60 g en 80 g weeg. As jy sommer gewone aartappels uit die supermark gaan gebruik, maak seker hulle het ’n ferm skil en is sonder knoppies of vlekke.

Plaas die moere versigtig in die grond met die uitloopsels na bo. Bedek met sowat 8 cm fyn grond. Los ’n liniaallengte tussen die moere. Die moere behoort sowat 2 weke nadat dit geplant is bo die grond verskyn. Erd die plant op soos dit groei en gee gereeld water.

Verminder die water wanneer die aartappels oesgereed raak. Onthou om alle reste van die plant te verwyder wanneer jy finaal oes, dit kan plae en siektes veroorsaak.

Wees op die uitkyk na plae en siektes. Die plant is baie vatbaar vir siektes en enige probleme moet dadelik aandag kry.

Lewer kommentaar

Leave a Reply