Hulpeloos skryf:
“Ek en my man is nou al 9 jaar saam en ek is bang hy verneuk my of het my verneuk. Hoe sal ek weet of hy het? Hy werk baie weg. Hy was hier in NZ vir amper 6 maande voordat ek gekom het en in Mosambiek vir 3 jaar sonder dat ek by hom gebly het en hy bly vir my sê as hy my verneuk het sou hy my gesê het maar ek weet nie of ek hom moet glo nie. Ek het twee seuns by hom en wil nie hom graag los nie maar ek is bang dat hy my sal los vir ‘n ander vrou of hy sal my verneuk omdat ek so jaloers is. Ek het al vir hom weer ‘n ring gekoop net om te bewys dat hy myne is. Is ek kinderagtig om te doen of is dit reg dat ek hom wys dat hy myne is. Ek weet nie met al die baleiery of ek meer regtig lief is vir hom nie. As ek alleen is dan voel ek of ek wil vir hom sê ek sal hom los maar as ons bymekaar is dan voel ek anders wat moet ek doen?”
Marthie van Zyl:
Jaloesie is ‘n LELIKE ding. As ‘n vrou ‘n man aanhou beskuldig van egbreek gaan hy dalk uit radeloosheid wel egbreek pleeg, want hy word TOG daarvan beskuldig, of hy dit nou doen en of hy dit nou nie doen nie. Ek stel dus voor dat jy ophou om hom te verdink en/of beskuldig van dinge. Net jy sal weet of hy jou liefde werd is of nie. Maar jy kan nie ‘n man dreig met skei of aan jou bind met ‘n ring nie, liefde is baie baie dieper as dit.
