Die leeu (Panthera leo) is ‘n soogdier van die familie Felidae. Dit is die naasgrootste katspesie ná die tier. Mannetjies kan maklik herken word aan hulle maanhare en weeg tussen 150 en 250 kg, terwyl wyfies tussen 120 en 150 kg weeg.

Leeumannetjie
Leeumannetjie

Leeus kom in hul natuurlike omgewing in Afrika suid van die Sahara en in Asië voor. In Asië word ’n kritieke bedreigde oorblywende bevolking in die Gir-woud Nasionale Park gehou.

In die natuur word leeus tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, weens die beserings wat hulle gedurig in gevegte met mekaar opdoen en wat hul lewensduur verkort.

Leeus geniet ‘n warm klimaat en jag in groepe. Hul tipiese habitat is die savanne en grasvelde, hoewel hulle ook na die bosse en woude kan wend. Wat ongewoon van leeus is, in vergelyking met ander katsoorte, is dat hulle ’n sosiale spesie is. ’n Trop leeus bestaan uit bloedverwante wyfies en nakomelinge en ’n klein aantal volwasse leeumannetjies. Troppe leeuinne sal gewoonlik saam jag en groot hoefdiere as prooi aanval. Leeus is as roofdiere heel boaan die voedselketting, maar sal by geleentheid ook aas. Hoewel dit nie in leeus se aard is om mense te jag nie, is enkele gevalle opgeteken waar dit wel gebeur het.

Leeuwyfie

Lewer kommentaar

Leave a Reply