Verhooghipnose in Suid-Afrika = Andrè, Die Skreeusnaakse Hipnotiseur.  André tree al die afgelope amper drie dekades dwarsdeur Suid-Afrika op, en vermaak gehore steeds met sy skaterlag-vertonings landwyd!  Aanhangers kan gereed maak vir ‘n splinternuwe vertoning by Carnival City se Applause op Vrydag, 4 en Saterdag, 5 September elke aand om 19:00, wanneer sy nuwe produksie die verhoog tref.  Daar is ook ‘n spesiale vertoning op Woensdag, 9 September om 18:00, wat opgeneem gaan word vir televisie.  Besprekings vir al die vertonings kan by Computicket gedoen word deur 0861 915 8000 te skakel, of op die webwerf www.computicket.com.  Groepe van 10 of meer kry oudergewoonte ‘n lekker afslag deur Lefra Produksies te skakel by (011) 815 3000 of stuur ‘n e-pos aan admin@lefra.com.  Andrè, Die Skreeusnaakse Hipnotiseur word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings aangebied.

Andrè is verheug om weer voor ‘n gehoor te kan optree.  “Na die inperking van vyf maande, kan ek nie wag om ‘n klomp vrywilligers onder hande te neem en te verander in sangers, dansers, diere en huishoudelike items nie!  En dit natuurlik alles net vir jou – en my – vermaak!” lag Andrè.  “Daar is slegs ‘n beperkte aantal sitplekke en gaste moet onthou dat ons alle Covid-19 protokols streng sal handhaaf”, sê Andrè.  Maar waar het dit alles begin vir André? “Ek het toe ek vyf jaar oud was my eerste televisieadvertensie gemaak.  Ek het toe reeds geweet dat ek op die verhoog wou wees, maar ek het nooit geweet wat ek op die verhoog wou doen nie…  Toe, in 1987, sien ek ‘n program deur die legendariese Max Collie.  Ek was so mal daaroor dat ek onmiddellik geweet het dat dit was wat ek wou doen.  Ek het hom genader oor opleiding, en ná sy dood in 1990 het ek dwarsdeur die land begin optree,” het André gesê.

Maar is hipnose nie gevaarlik nie? André antwoord:  “’n Mens onder hipnose verloor nooit beheer oor wat hy doen nie, en hy onthou presies wat hy gedoen het.  Mense doen snaakse dinge op die verhoog, want dis presies wat van hulle verwag word.  Alle suggesties waarop die persoon sal reageer sal binne die raamwerk van die vrywilliger val. En ‘n mens se brein beskerm jou op só ‘n manier dat jy nie jou diepste geheime sal uitlap nie.  ‘n Vrywilliger sal hom byvoorbeeld nie kaal uittrek tensy hy iemand is wat in elk geval by elke partytjie so iets doen nie.”

André het ook al oorsee opgetree.  Hoe vergelyk Suid-Afrikaanse verhooghipnose met dié in ander lande?  “Man, ek is baie lief vir Suid-Afrika, maar ek moet eerlik wees, ons Suid-Afrikaners is maar nog baie skaam.  In Amerika kry ‘n mens baie vrywilligers wat rêrig enigiets sal doen.  Die Australiërs hou weer van programme wat ‘n bietjie onder die belt is.  Suid-Afrikaners hou van vinnige programme, en wil die hele gesin saambring.  En ons gehore giggle nog as iemand ‘n kragwoord of twee gebruik.”

Wat is vir André belangrik?  “Ek is gek oor my werk,” sê hy.  “Daar is niks wonderliker as ‘n gehoor wat skater en applous gee nie.  Maar van die verhoog af is ek maar stillerig.  Ek bring ure in grotte deur, want dit gee my die geleentheid om dinge te ontdek waar g’n ander mens nog ooit was nie, en om dié wonderlike natuurverskynsel te geniet.”

Het daar al ooit met een van jou optredes iets verkeerd geloop?  “Hipnose is baie veilig, maar dis die vrywilligers wat op hulle eie stasie is.  Gedurende een van my optredes het ek vir een van die vrywilligers gesê dat hy vir my kwaad is, en dat hy uiteindelik so kwaad sou wees dat hy my sou slaan.  Gewoonlik sê ek dan “Slaap!”, en die persoon lê plat op die vloer.  Maar daardie aand het die gehoor so gelag dat die vrywilliger my nie gehoor het nie, en toe is dit ék wat op die vloer lê, met kneusplekke en ‘n geswelde lip!   Maar nou ja, dis hoe die vermaaklikheidswêreld werk!”

Die volgende Covid-19 protokols is in plek wanneer jy Carnival City besoek:

Gesondheidsvraelyste word deur elke persoon by alle ingange voltooi en jou temperatuur sal gemeet word;

Elke gas moet sy of haar identiteitsdokument of MVG-kaart by die ingang toon;

Elke gas moet ‘n masker dra en sy of haar hande sanmiteer by die ingange;

Binne die venue sal sosiale distansiëring gehandhaaf word;

Alle drankies sal geseël wees as dit bedien word;

Alle kos sal bedek wees as dit bedien word. Bespreek jou kaartjies vir Andrè, Die Skreeusnaakse Hipnotiseur nou by Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com.  Vir groepbesprekings, skakel Monica Booysen by Lefra Produksies by (011) 815-3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com.

Wen kaartjies vir Andrè, Die Skreeusnaakse Hipnotiseur by Carnival City

Drie lesers kan elkeen ‘n dubbelkaartjie wen na Andrè, Die Skreeusnaakse Hipnotiseur by Carnival City op Vrydag, 4 September om 19:00.  Om deel te neem aan Roekeloos en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: LEFRA ANDRE ROEKELOOS, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP.  Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & ROEKELOOS ANDRE KOMPETISIE as onderwerp.  Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.  SMS’e kos R1,50 elk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply