Antjie Krog, gevierde Afrikaanse digter, skrywer, joernalis en akademikus wie se werk ook al in verskeie ander tale vertaal is, is die digter wat vanjaar op 7 en 8 Oktober by die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington gehuldig word. Krog vier in Oktober ook haar 70ste verjaardag en haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, het in 1970 verskyn. Digters wat al by Tuin van Digters gehuldig is, is onder andere Breyten Breytenbach, Adam Small, TT Cloete, Wilma Stockenström, Daniel Hugo en Alfred Schaffer.
Die tema is vanjaar *ek-is-jy-is. (‘n Individu se menswees is geanker in ‘n netwerk van menseverhoudinge: ek is omdat jy is; ons is omdat julle is. Almal is.) Die program sluit in gesprekke met digters, bekendstelling van nuwe digbundels, insluitende Ons Klyntji – die alternatiewe veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en komieks publiseer, die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys, en ‘n groepkunsuitstalling, eensaam tesame.
Die volledige program sal in Augustus aangekondig word sowel as kaartjiebesonderhede. Kaartjies sal gekoop kan word by Jessica op weeksdae tussen 09:00 en 13:00 by die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat 14, Wellington, per epos of deur haar te bel by 021 873 2786.
Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.