Die Suid-Afrikaanse tenoor, Stefan Louw, bring ‘n reeks opera arias na verskeie plekke in Suid Afrika. Die opening van sy produksie Aria! is vasgestel vir Sondag 24 Oktober om 3 namiddag by die Joburg Promusica Teater in Roodepoort.
Die program bestaan uit arias van verskeie genres in opera. “Soveel genres as wat my fach kan uitvoer,” beklemtoon hy. Die konsert dek die meer bekende komponiste en arias soos Nessun Dorma en La Donna e Mobile, maar sluit ook minder bekende arias soos Ah! Fuyea, douce image in.
By die opening van die produksie span Louw vir Ilse Myburg in as pianis sowel as Veramarie Meyer as mezzo sopraan, beide bekende kunstenaars in hulle velde. Myburg is sedert 1986 ‘n begeleier en Meyer het ‘n sterk opera repertoire agter haar naam.

“Ek hoop om die publiek se uitsig verbreed met betrekking tot hoeveel pragtige arias daar bestaan,” sê Louw met passie. Met hierdie doelwit voor oë beplan hy om die program en ondersteunende kunstenaars aan te pas met elke konsert tydens die toer van die produksie. Na die opening in Roodepoort sal hy optree in Pretoria teen die einde November.
Kaartjies vir die konsert is verkrygbaar vanaf Computicket en besprekings het pas geopen.
