Ballet Beautiful bied ’n klassieke én kontemporêre dansfees

Ballet Beautiful
Roekeloos
24 Junie


Die Kaapstadse Stadsballet se uitmuntende program ter herdenking van hulle 80ste bestaansjaar word in Julie voorgesit met ’n opwindende en gevarieerde program, Ballet Beautiful.

Van 4 tot 12 Julie kan Kaapstadse gehore die klassieke skoonheid van Marius Petipa se pragtige Paquita geniet, asook die wêreldpremières van twee nuwe ballette deur die jong Suid-Afrikaanse choreograwe Kirsten Isenberg en Yarisha Singh. ’n Nuwe pas de deux deur Robin van Wyk is ook op die program.

In pas met hulle beleid om plaaslike talent te bevorder en steun, het KSB aan Isenberg en Singh, albei graduandi van UK se Balletskool, die opdrag gegee om nuwe werke vir die geselskap te skep. Isenberg bied Of Gods and Men aan, ’n neo-klassieke werk wat die mitologiese stryd tussen die mens en die gode voorstel en wys hoe hulle onderskeie sterk en swak eienskappe uiteindelik meebring dat hulle gelyk word. Singh se spitsvondige Serendipity beeld in kontemporêre styl ’n verskeidenheid emosies uit en laat ruimte vir die gehoor se eie afleidings en assosiasies.

The Fragile Balance, ’n nuwe pas de deux deur Robin van Wyk, KSB se Artistieke Direkteur, sluit die eerste deel van die program af. Die werk is geïnspireer deur ’n gedig met dieselfde naam, deur Arokuara, en word gedans op maat van die manjifieke musiek van Max Bruch se beroemde vioolkonsert.

Paquita, met choreografie deur Marius Petipa, is die eerste keer as vollengte-ballet in Rusland deur die Imperiale Balletgeselskap van Sint Petersburg uitgevoer. Die Kaapstadse Stadsballet voer die divertissements uit die laaste bedryf op. Die ballet, met musiek deur Ludwig Minkus, word steeds beskou as een van die onontbeerlike werke in die klassieke ballet-repertoire.

Kim Vieira en Daniel Szybkowski in Paquita
Kim Vieira en Daniel Szybkowski in Paquita
Die gehoor word ook by elke uitvoering getrakteer met ’n voorspel deur ZAMA Dansskool. ZAMA is een van KSB se uitreikvennote en gee ’n uitvoering van Uvuyo (Viering) deur die bekende Suid-Afrikaanse choreograaf, Adele Blank.

Die Kaapstadse Stadsballet bied Ballet Beautiful van 4-12 Julie by die Kunstekaap Teater aan. Kaartjies kos R175 en R150 en is verkrygbaar by Computicket (tel. 0861 915 8000) of Kunstekaap Bel-’n-sitplek (tel. 021 412 7695).

Skedule van opvoerings:
Vrydag 4 Julie – 19h30
Saterdag 5 Julie – 14h00 & 19h30
Sondag 6 Julie – 15h00
Vrydag 11 Julie – 19h30
Saterdag 12 Julie – 14h00 & 19h30

(foto deur Pat Bromilow)

2.5

Lewer kommentaar

Leave a Reply